“Date” yourself?

Geselsradio het somtyds stuitige dinge waarmee hulle luisteraars besig hou. So hoor ek nou die dag hoe die omroeper mense uitnooi om in te skakel en te sê of hulle met hulself sal wil uitgaan (dating).

Uiteraard is daar ʼn aantal mense wat geen gebrek aan selfvertroue het nie. Volgens hulle sou hulle enige tyd met hulself uitgaan omdat hulle intelligent, aantreklik, interessant, opwindend, aangenaam, vriendelik, kreatief en vrymoedig is. Dit ontbreek my nog aan die mate van selfliefde en groei daarin is seker die aangewese weg.

Ander gee egter geredelik toe dat hulle nie met hulself sou wou uitgaan nie. Hulle is humeurig en onverdraagsaam, krities en ongeduldig, beterweterig en selfsugtig, kortom ʼn pyn. Dit kan uiteraard onnodige self kritiek verteenwoordig maar nadink oor watter tipe persoon jy is, kan ʼn goeie oefening wees.

As jy skaars met jouself kan saamleef hoe verwag jy moet ander, kan gevra word?

As jy boonop weet van dinge wat jou ʼn minder aangename en toeganklike mens maak, waarom nie ernstig begin aandag gee aan die goed wat hinder nie?

Vra jou lewensmaat, vriend of kollega om ʼn eerlike sessie met jou deur te bring. Begin met ..”ek is bewus daarvan dat ek… Sal jy my help om hierdie tekortkoming te oorkom deur my daarop te wys wanneer dit voorkom? Ek gee jou die reg om in my lewe in te spreek”.

Meer en meer soos Jesus, dit is ons ware roeping.
Waarom bring jy tyd met Jesus deur?
Hy is die ideale reisgenoot.

Sterkte.
Ps. Laat weet ʼn bietjie, sal jy met jouself uitgaan?