Huweliksweek

Date night
Youre my everything…

Dit is sahuweliksweek. Gedurende hierdie week dink ons evaluerend na oor ons huweliksverhoudinge en ondeskei areas waarin ons kan groei. Dit is die verrassende van alle verhoudings. Ons het nooit klaar gegroei in ons verstaan en begrip van mekaar nie. Omdat die persone wat by die huweliksverhouding betrokke is se lewens en ervaringe nie staties is nie  kan die huweliksverhouding ook nie staties wees nie. Sedert gister en vandag het daar dinge gebeur en het ons goed geleer  wat ons uitkyk op die lewe en op mekaar beinvloed. Ons het gegroei as individue, nou moet daardie groei in ons verhouding geïntegreer word. 
Gedurende die week gaan ons dus nadink oor n paar strategiese sake rakende ons verhouding. Vandag wil ek sommer by die begin van alles kom. Daardie eerste keer raaksien, die skoenlappers op die maag, die bewuswording en opwinding, die avontuur wat ons uitgaan dae gekenmerk het. 
Inderdaad groei ‘n mens ook in volwassenheid wat dit betref maar iets van die aanvanklike bekoring en romantiek wat daardie eerste tree in die verhouding gekenmerk het gaan dikwels onder die druk van elke dag verlore. Die huwelik raak ‘n saai aangeleentheid, ‘n roetiene van opstaan, gaan werk, huistoe kom, neerplons voor die TV, aan die slaap raak net om môre weer dieselfde te doen. 
Daar is indrdaad verantwoordelikhede wat nagekom moet word. Die lewe is nie ‘n fee verhaal waarin ons die hoofkarakters speel nie. Tog moet fantasie nooit volledig verdwyn nie. 

Struktureer, dagboek en prioritiseer dus vir sulke geleenthede. Piekniek onder die bome, uiteet en oorbly op ‘n vreemde plek, laataand op die strand sit, inmekaar gewoel voor die kaggelvuur lê, pret in die binnekamer. Uiteraard sonder die kinders, die selfoon en ander steurnisse. Dit kom net as ‘n mens bewustelik daarvoor begroot en dagboek. 
Luister gerus na ‘Jy is vrou’ van  Danie Niehaus en lees ‘n verse saam uit Hooglied, kyk n romantiese rolprent …maar doen vir ‘n slag iets innoverend en herhaal dit weer en weer en weer. 
Jy wek my in die môre as die dou-gras waak
Fluister wasem-woorde teen my wange aan
Hoor die stille geraas, voel jou asem rustig blaas
En die deining van jou bors, jy’s ‘n wonderwerk
Soos ‘n ongebyte appel blink jy reg deur my

En ons dans op die wieke van ‘n lentewind
Deur jou glinster-hare breek ‘n beeId
Dronk van vreugde, vars vol lewe
Jy is vrou
Vlinder-vlerke soos satyn

O, niks is dan mooier as jou bruin bolle oë
In liefdeskuld getoë
Jy is vrou
En my arms kan jy hou

Gebed
Here, vandag bid ek vir ons huwelik. Ek onthou daardie eerste raaksien, die bekoring en betowering. Ek onthou die goeie tye saam, die lag en skerts en geniet van mekaar. 
Ons het iets daarvan verloor. Dit gaan somtyds  so haastig en ons is meermale doodmoeg, geirriteerd en opsoek na n eie  ruimte. Dankie vir my lewensmaat. Dankie vir die mooi herinneringe. Help ons om daarop voort te bou. Wys my hoe ek my maat kan bederf. Hy/ sy bly steeds een van die beste dinge wat ooit met my gebeur het. 
Ek prys U 
Amen.