Dans om die kruis

Ek het die afgelope naweek ʼn evangelisasie konferensie bygewoon. Dit is deur New Born Ministries fasiliteer en evangeliste van regoor Afrika het dit bygewoon. Die klem was op die krag van ʼn mens se persoonlike getuienis om mense aan die Jesus van die Bybel voor te stel. Die inisiatief bereik jaarliks sy klimaks tydens Pinkster wanneer gelowiges uitgenooi word om ʼn kenteken in die vorm van ʼn kruis te dra. Die woorde “ek glo, vra my waarom” verskyn daarop. Uiteraard bied dit ʼn besondere aanknopingspunt om te vertel wat die Here vir jou gedoen het.

Indien jy belangstel om van daardie kentekens te bekom kan jy gerus met New Born Ministries skakel by http://www.newbornministry.com

Die geleentheid het geborrel met entoesiasme en lewe. Alhoewel die gehoor buitegewoon divers was, Ugandese, Tanzaniërs, Kongolese, Zimbabwiërs. Suid Afrikaners, Malawiërs, Nigeriërs ens. was daar nie sprake van spanning nie. Konferensiegangers het ʼn gemeenskaplike taal gevind. Die taal van liefde, van verlossing, van hoop, van ʼn nuwe toekoms.

Diversiteit het op die agtergrond getree sonder om dit te ontken. Dit was net nie belangrik nie. Daar was en is belangriker sake om oor te praat as om te stry oor kleinlikhede. Daar is ʼn ruimte waar elkeen se eiesoortigheid gevier en beleef kan word maar hier was gemeenskaplikheid, liefde vir mekaar, eensgesindheid, lojaliteit en fokus van groter belang.

Saterdag aand het die bekende Loyiso Bala bedien. ʼn Tswana lied is met grootse opgewondenheid begroet.

Konferensiegangers het spontaan in die middel van die ouditorium begin dans. Ander het entoesiasties hande geklap en in die wonder van die oomblik gedeel. Ek het verlang na ʼn nuwe toekoms vir ons geknelde land, die dag wanneer Christene sal begin dans om die kruis van Jesus. Dis ons enigste hoop.

Ek wonder waarom ons so sukkel om mekaar te vind in hierdie mooi land van ons.

Die dans om die kruis wil mense met mekaar versoen.