Daar is rampe rondom jou

Geen mens kan se dat dit vervelig is om in Suid Afrika te bly nie. Daar gaan nie ʼn dag verby dat daar nie opspraakwekkende dinge plaasvind nie. Die meeste daarvan ontstel en ontwrig.

Suid Afrikaners het rede om moedeloos en teleurgesteld te wees. Die verhale van korrupsie, bedrog, geweld en verwaarlosing wat daagliks in die media berig word, laat ʼn mens wonder of daar ʼn samelewingsverband is waar daar wel positiewe dinge plaasvind en daar is.

Verhale van ongekende medemenslikheid speel af waar mense in nood verkeer. Die vernietigende brande in George, Knysna en omgewing het mense se harte aangegryp. Die selfprysgawe van brandbestryders is bewonderenswaardig. Agt persone het hul lewens verloor op ʼn wyse wat ʼn mens jouself nie kan voorstel nie. Ons deel in die hartseer van die lewensverlies.

Wat my aangegryp het is die reddingsoperasie om meer as 2 miljoen bye voor die gulsige vlamme te red. Bye is bepalend vir die voortbestaan van die mens en gedurende die vorige brande het 20 miljoen bye in die slag gebly. Meer as 600 kilometer is afgelê en terwyl vlamme letterlik agter die Samaritane lek word nog ʼn byekorf verwyder.

Die beste onder en van mense kom na vore as ons en ons naaste in ʼn krisis verkeer. Dan kom mense, beelddraers van God en eintlik net afdrukke van mekaar in beweging en gee inhoud aan omgee en barmhartigheid.
Dan word die agenda bepaal deur wat die regte ding is om te doen en persoonlike belang, voorkeur, veiligheid, taal, kultuur en politieke affiliasie word tersyde gestel.

Die rampgebiede van die lewe is reg rondom ons. Ons hoef nie te wag vir ʼn aardbewing, brand of oorstroming om in ons omgewing plaas te vind nie. Die rampe staan op die hoeke van ons strate, klop by ons deure en hekkies aan, bedel op straat. Baie van hulle is kinders.

Digby meeste van ons is daar ʼn sg. informele woon area waar die breë spektrum van uitdagings en probleme teenwoordig is. Child headed families, bejaardes wat na kinders omsien, dienslewering wat ontbreek. Die hulpgeroep van mense word saans op TV gebeeldsend in tientalle diensleweringsbetogings waarvan ʼn rekordgetal hierdie jaar plaasgevind het. Ek hoef nie aan die nood inhoud te gee nie. Soveel waardering vir mense wat hul lewens aflê vir medereisigers. Die Masedoniese stem het nog nie stil geword nie. Kom oor en help ons.

Ds Tewie Pieters van Coligny vertel gister hoedat nederige saadjies van geloof en omgee besig is om Coligny in ʼn baken van hoop te verander. Meeste van ons sal onthou van die trauma wat daar afgespeel het verlede jaar toe twee boere aangekla is van moord op ʼn swart seun wat glo sonneblomme gesteel het.

Sedertdien het rolspelers rondom ʼn tafel gaan sit en mekaar gevind. Nou word die strate herstel en verfraai, besighede geverf, programme in werking gestel om minderbevoorregtes te help. Natuurlik is die bose nie daarmee tevrede nie. Hy probeer alles om die mooi werk te ontwrig. Maar die bose se beweegruimte is ingekort. Hy is oorwin , die oop graf is daarvan ʼn metafoor. Ds Tewie vertel van ʼn 400 miljoen rand investering in die plaaslike ekonomie wat honderdtalle werksgeleenthede tot gevolg sal hê. Dit het begin met iemand wat gesê het ons kan ons mense en ons gemeenskap nie op ʼn skinkbord weggee aan die vyand nie.

Daar is baie sulke verhale. Die meeste mense veral die in nood het geen aandeel aan die korrupsie en bedrog wat Suid Afrika se koffers leeggetap het nie. Dit help nie om hulle die skuld te gee as hulle op grond van valse beloftes en onkunde mag gegee het aan mense wat dit nooit moes gehad het nie. As iemand sterf van dors kan jy hom tog nie verwyt vir die aandeel wat hy gehad het aan sy dors nie. Jy doen wat gedoen moet word. Jy red ʼn lewe. Jy kom jou roeping na. Jy kies vir God en vir sy mense en teen jou vooroordele en agterdog.

Dis die tipe omgee wat ek by die Angus saamtrek in Pretoria gesien het. Kleur het nie ʼn rol gespeel nie. Daar was nie ʼn ons en hulle nie. Niemand het gesê maar hulle aanbid anders as ons nie. Daar was een wekroep te midde van wapperende Suid Afrika vlae. Here red ons land van ondergang.

Daar is ʼn rampgebied op jou voorstoep. Hoe gaan jy bydrae om die nood aan te spreek?
Jesus se vir sover julle dit aan die geringstes gedoen het het julle dit aan my gedoen.

Groete, Jannie Pelser