Couch potato

Rom.6: 13
Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.

Ek sien gister hierdie woorde – don`t be a couch potato.
Die bedoeling is duidelik, die rusbank sus jou in ʼn toestand van traak my nie agtigheid en self vergenoegdheid.
Daar moet tyd wees vir rus. Genoeg daarvan ook.
Ons is te besig maar is dit met die regte goed?
Watter verskil maak dit aan die lewens van ander mense?

Hoe is dit Koninkryksgerig?

Is dit ʼn vergestalting van roeping?
Bring dit vrede en rustigheid?
Kan jy dit as ʼn offer aan die Here aanbied?
Weereens is die bedoeling nie dat ʼn mens heeldag moet kerk hou of preek nie. Trouens, dit is waarskynlik die mees onproduktiewe uur van die week.
Ek het in die onlangse verlede vir my kollega voorgestel om die erediens net te begin en dan die mense uit te stuur met die woorde – gaan doen dit nou.

Wat is daar wat gemiddelde erediensgangers nog nie gehoor het nie? Is die Evangelie en die genade van God nie op elke denkbare manier verduidelik en gedemonstreer nie? Hoeveel “goed-voel” boodskappe moet ons nog hoor? Het die stoel in die kerk ook ʼn rusbank geword?

Bietjie skerp, sê jy, dit is nie al waaroor die erediens gaan nie. Inderdaad. Dit is in die eerste plek ʼn viering van die genade en ʼn dankbare uitdrukking daarvan deur lof en aanbidding. Ons het ʼn Bybelse mandaat om gereeld bymekaar te kom en die verlossing te vier. God is nie met ons klaar nie en daar is baie om te leer.

Wat is die vrug van daardie ontmoeting sou ʼn mens kon vra?
Hoe word dit in die praktyk in ons gesinne, sosiale kring, werksomgewing en gemeenskap vergestalt?
Die nuwe Testamentiese gemeente waarvan ons in Handelinge lees het eweneens gereeld bymekaar gekom om onder andere die nagmaal te vier. Die vrug van hul Sondag viering was dat daar gereeld mense tot die gemeente toegevoeg is en dat hulle die respek en agting van die mense rondom geniet het.

Hand.2: 46
Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet,
47 en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.
Klink dit soos ons gemeentes?