Beginsels vir ʼn gelukkige lewe – 7

– Lag ʼn slag

Dit is een van die uitsonderlike eienskappe van ʼn mens, die vermoë om te kan lag.

Omdat ons beelddraers van God self is moet ons aanvaar dat ons ook daarin God gelyk is. God lag hoe vreemd die gedagte ook al.

Abraham lag in ongeloof as hy hoor van ʼn ryke nageslag, Sara dink nog meer grafies oor die moontlikheid en lag by haarself.

Dwase se gelag (Pred.7:6) word met die geknetter van doringtakke onder ʼn pot vergelyk, die vyande van Israel lag venynig.

Die Psalmdigter lang en sing as hy nadink oor God se goedheid en guns en Jeremia bely dat hy nie kan saamlag terwyl sy volk in so ʼn hartseer toestand is nie.

God lag vir die geskarrel van sy vyande. Ps.2

So lees ons van lag in verskeie kontekste.

Daar is ook ʼn lag net omdat dit lekker is. n Staaltjie wat jou vertel word, Tolla op sy beste, braaivleis stories oor jou grootste verleentheid, pure opgewondenheid wat jy nie kan keer nie.

Lag vir jouself, jou maniërismes, lompheid, foute en suksesse.

Lag is terapeuties, dit verlig spanning, dis sosiaal en nooi ander binne.

Lag is sosiaal en aansteeklik. Almal ken die ervaring van lekker lag met iemand wat lekker lag, selfs sonder dat jy die storie self gehoor het.

Kinders se lag is soos goue oomblikke, daardie ongeinhibeerde kraai van lekkerkry. Babatjies se gelag laat oumas en oupas snaakse dinge doen.

Een van ons kinders, toe hy deur sy ma ernstig aangespreek word dat hy lag terwyl sy hom teregwys het onskuldig verklaar, “ ek kan dit nie help nie, my mond lag vanself”.

Moenie jouself en die lewe so ernstig opneem nie.

Lag soos God oor jou lag.

Pure opgewondenheid oor wat jy met hierdie dag gaan doen.

Ps.126: 1

‘n Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos ‘n droom.

Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.”