Beginsels vir ʼn gelukkige lewe – 41

  • Liewe Jesus, maak my mamma rustig

Ek en Suzette sit by oggendkoffie en gesels oor hierdie interessante, deurmekaar wêreld waarin ons woon. Dis ʼn wêreld, in besonder ʼn land, wat deur vele uitdagings geraak word. Ek gebruik die woord uitdagings eerder as probleme.

Probleme klink finaal en onoplosbaar.

Uitdagings daarenteen roep om strategie en bevat die belofte van uitkoms.

Aan probleme kan jy bitter min doen maar met uitdagings kan jy handel, so voel ek.

Daarom gebruik ek liewer die woord, uitdagings.

So gesels ons vanoggend oor die vele uitdagings in ons eie en ander mense se lewens. Ons gesels oor die land en sy deurmekaar politiek. Kan enige onthulling wat voor watter kommissie van ondersoek ook al gemaak word ʼn mens nog verras en ontstel? Dit voel asof Jan Publiek sy kwota korrupsie en bedrog gehad het.

Hoe mnr Zondo dit hou weet net hy alleen.

Die ekonomie ontstel want die lewe word net duurder. Hier by ons is dit opmerklik hoeveel winkels in ʼn groot sentrum deure toegemaak het.

Ek besoek gister ʼn boer op ʼn plaas en hy vertel van die onsekerheid waaronder die boere gemeenskap lewe. Plaasmoorde val op dowe ore terwyl baie boere die versengende droogte moet trotseer.

Die Openbare Beskermer bly in die nuus ons staatspresident word aangetree vir geldwassery bewerings.

Die EFF gedra hulle soos bullies as mnr Pravin Gordhan sy begroting wil voordra.

Mens wil nie eers verwys na mnr Zuma se berekend ontwykende optrede voor die Zondo kommissie nie. Bewerings van allerlei aard word gemaak en krap die reeds deurmekaar sake van die verdeelde ANC net verder deurmekaar.

Daar is die Estina debakel, reddingsboeie vir staatsondersteunde instellings met bedrae wat ʼn mens nie eers kan uitspreek nie terwyl ʼn mens weet, dat dit wensdenkery is om te dink dat dinge daar gaan verbeter.

Waar dan heen, kan ʼn mens vra?

Ek ry weg by die boer na wie ek verwys het en sê vir die Here dat sy kinders moedeloos is. Dit gaan nie goed met hulle nie en sal Hy nie asb. iets daaraan doen nie.

Dan word ek herinner aan die brief wat Johannes op die eiland Patmos aan die gemeente in Pergamum skrywe. Die vooruitstrewende stad het verskeie heidense tempels gehad. Zeus, Asklepius, die keiser onder andere word daar aanbid. Die regspraak word daar beoefen en meer as een Christen het reeds met sy lewe betaal vir sy belydenis dat Jesus en nie die Keiser die Here is.

Daar is mense wat heidense elemente in die geloofsgemeenskap indra en Christene verlei om afgode te aanbid en die orgies wat daarmee gepaard gegaan het aan deel te hê.

Tereg word van Pergamum gepraat as die plek wat die Satan sy troon het. Dis nie maklik nie.

Tog word die gemeente bemoedig omdat hulle nie toegee aan hierdie druk nie. Hulle bly getrou aan die Here te midde van enorme druk van buite.

Die gemeente word wel opgeroep om met die verkeerde invloede te deel. Uit die mond van die Here kom die tweesnydende swaard wat oordeel as daar nie bekering is nie. Dan die woorde –“aan hom wat oorwin”.

Daar ís ʼn stryd om te stry.

Ons wil graag dat alles seepglad verloop maar dit is nié die Evangelie nie. Die Here belowe ook nie dat alles altyd rooskleurig en belowend sal verloop nie. Dit raak ongemaklik maar God rus ons toe vir die stryd van die geloof. Ons word opgeroep om die geloof in God en ons roeping nie te versaak nie maar end uit op ons pos te bly staan. Daar is mense in nood wat ons nodig het.

Laat die politici maar voortgaan met hul opportunistiese optrede.

Laat die korruptes aan die Here oor sonder om jou profetiese roeping te versaak.

Moet egter nie in die modder vasval nie, sit jou “geloofs- vier by vier” in rat en spin jou uit die modder uit.

Klim oor die klippe en rotse wat in die pad lê.

Sê op en afdraande die stryd aan. Beskou dit as ʼn avontuur.

Moenie deur alles geïntimideer word nie.

Dis nie probleme nie maar uitdagings.

“Nie deur menslike krag nie” sê die Here, “maar deur my Gees”.

Veronica Dercksen, vier jaar oud, se woorde kom weer in my gedagtes op.

Ek transkribeer dit (Youtube) soos ek dit hoor.

Een twee drie

Liewe Jesus, maak my pappa en my mamma en my sussie rustig, rustig, rustig.

Maak my en my sussie rustig, rustig, rustig.

Liewe Jesus, maak my mamma rustig, rustig.

Liewe Jesus, Gee vir my sussie ballonne, en vir my

Liewe Jesus, gee vir my elke krag, want die krag was, net een elke dag af, en toe kan ek vir niemand sien nie.

Die Here maak vir my en my sussie rustig, rustig,

Duiwel, uit hierdie huis uit, en ek belowe jou, belowe, gaan uit hierdie huis uit, jy gaan nooit weer hier binne nie, nee, nee, wyk Satan,

Of vir liefde,

Amen.

Sê die Woord nie Psalm 46:11 “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde”