Beginsels vir ʼn gelukkige lewe – 38

  • Wat het jy in jou huis?

Klein Nihan (13 maande) bly vir ʼn paar dae by ouma en oupa terwyl sy ma en pa op ʼn welverdiende vakansie vertrek het. Dis nogal ʼn uitdaging omdat slaap, veral snags, glad nie hoog op die mannetjie se agenda is nie. Hy is besig en moet besig gehou word. Speelgoed van allerlei aard, die meeste speel wysies en maak geluide, lê die hele huis vol.

Ek dink vanoggend dat enige iemand wat ons tuis sou besoek dadelik sou weet dat daar ten minste een kleinding in die huis is. Daarbenewens sou hulle kon aflei dat dit nog ʼn klein mensie moet wees omdat die speelgoed sterk daaraan herinner. Indien hulle fyn oplet sou hulle ook agterkom dat dit ʼn seuntjie moet wees met al die geweertjie, balle en karretjies wat rondlê.

Wanneer mense jou tuis besoek wonder ek watter afleiding hulle sal maak. Ek verwys veral na ( en hier moet ek versigtig wees ) dinge wat nie met jou belydenis dat Jesus die Here is harmonieer nie.
Jare gelede was ek aan huis van mense wat ʼn yslike groot Budda beeld by die ingang na hulle huis akkommodeer het. Mense het die reg om uit te stal wat hulle wil maar dit het by my ongemak veroorsaak. Daar is ander items, sonder om nou weer op ʼn heksejag te gaan, wat rillings teen ʼn mens se rugstring afstuur.
Vir die wis en die onwis akkommodeer ons nie sulke goed in ons huis nie. Miljoene mense verkeer op ʼn dwaalweg terwyl Jesus sy lewe gegee het dat mense gered kan word. Om dan ʼn kontra boodskap willens en wetens uit te stal kan iets wees waaroor jy sou wou nadink.

Ek kan hoor dat jy vertel hoeveel geld die item jou uit die sak gejaag het. Mag so wees maar die koste om dit te hou mag later blyk veel groter te wees.

Jare gelede was daar ʼn golf van “huis skoonmaak” in die kerklike gemeenskap. Dit het almal op hul senuwees gehad en elke item is gekontroleer om te sien waar dit vandaan kom. Dis gek en oorboord. Dit is nie waarna ek verwys nie. Veeleerder die ooglopende dinge wat dalk nie gemaklik met jou belydenis en getuienis dat jy ʼn gelowige is saamgaan nie.

Dis jou besluit.
ʼn Oorvloed seën hierdie week.