Beginsels vir ʼn gelukkige lewe – 33

– Was dié brandreuk af

Daar is veral twee tipes brandreuk wat opval.
Braaivleis se brandreuk aan die klere van die mense wat “gebraai” het, is nie sleg nie. Jy weet sommer dadelik waarmee die manne besig was en staan jaloers eenkant terwyl jou mond water. Dis nou as ʼn mens met behoorlike hout braai. Hardekool, Kameeldring, Sekelbos, ens.

Veldbrand se reuk is anders. Dis oorweldigend, onwelriekend, onvriendelik en deurdringend. Jy was dit nie sommer af nie.

Ek sien van waar ek woon hoedat Suid Afrika se “wintersport” weer momentum kry. In die vlakte styg dik wolke van brandende gras, veldstruike en bome die lug in.
Kom die winter moet alles mos brand.
Ek verstaan dit nie.

Toegegee, die eerste groei na ʼn vernietigende brand is mooi en bemoedigend maar die swartgrys vlaktes is neerdrukkend en onaantreklik. Dis doods en depressief. Dis nie net die gras wat vergaan nie, honderde spesies lewe bo en onder die grond is daarmee heen. As jy die taak opgelê is om brand te slaan weet almal dit agterna. Jy ruik na brand, jou aroma is nie iets wat ʼn mens in ʼn spuitkannetjie wil vasvang en in supermarkte verkoop nie.

Twee soorte reuke. Een getuig van feesvreugde, lekker eet en kuier, laataand vriende wees en die lewe vier.

Die ander getuig van vernietiging, geweld en doodsheid.
Watter reuk kleef aan jou klere?

Waarmee is jy besig?

Bring dit lewe of bring dit doodsheid?