Beginsels vir ʼn gelukkige lewe – 32

– My liefdesklippie

Op Sondae middae “hou ons kerk” in Appelpark, Krugersdorp. Dit is meestal kinders wat die geleentheid bywoon. Die woelwaters verteenwoordig alle ouderdomme en kultuurgroepe. Dit is nogal uitdagend om die breë spektrum gehoor effektief te bedien maar ons het die troos dat die Heilige Gees op merkwaardige wyse in mense se lewens betrokke is en met hul toekoms vertrou kan word.

Verlede Sondag het ons oor gebed gepraat.

Gebed is een van die grootste gawes wat God aan sy kinders kon gee. Die verhewe waarheid dat, wanneer ek die naam van Jesus op my lippe neem, Hy my dadelik op my naam antwoord, is onweerstaanbaar aangrypend. Hoe God dit regkry om by elke mens persoonlik betrokke te wees is net te groot om te verstaan.

Daar is inderdaad niemand soos Hy nie.

Ek het vir elke kind (en grootmens) ʼn klippie gegee en hul uitgedaag om dit vir die week wat voorlê oral saam te dra.

Nie een oomblik sonder jou klippie nie.

Die klippie verteenwoordig God se belofte van nabyheid en sorg. Elke keer wat ek die klippie in my hande hou kom dit tot my “ Jesus het my lief, Hy is in beheer, Hy sorg en gee om”

Vanoggend is ek in my baadjiesak opsoek na iets en voel die klippie raak. Dit het vandag reeds verskeie kere gebeur. Onmiddellik word die gedagte van God se nabyheid en sorg ʼn realiteit. Dit troos, vertrek en bemoedig ʼn mens oneindig.

Ek wil jou vandag uitdaag om iewers ʼn klippie op te tel en dit oral met jou saam te neem. Jy sal verbaas wees hoe Godsbewus jy word. Hy is tog sonder ophou van jou bewus.

Mag jou klippie jou vandag en die res van hierdie week buitegewoon seën.

Rom.8: 31

Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?

32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?