Beginsels vir ʼn gelukkige lewe – 29

– Moenie spartel nie

My goeie vriend en klasmaat Izak Liebenberg vertel my gister van sy broer wat ʼn boer in distress is in Namibië. Die lang droogte laat baie boere tou opgooi en sommige raak selfs meer desperaat. Lewende hawe is op ʼn minimum en voer moet ingevoer word. Vooruitsigte lyk nie goed nie en boere is spreekwoordelik teen die toue.

Hy vertel hoe hy sy broer met ʼn metafoor bemoedig het. As ʼn mens in stormwater is en nie kan uitkom nie is die beste opsie om te dryf. Om te kan dryf moet jy ontspan en ophou spartel. Die oomblik as jy jouself begin inspan sink jy. Jy het geen ander opsie as om jouself op ʼn manier aan die water en sy vermoë om jou te dra oor te gee nie. Op die aangewese tyd vind jy iets om aan vas te hou of spoel die water jou op droë grond uit. Hierdie beeld herinner aan die Woord van die Here op so baie plekke.

JESAJA 30:15
So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.

FILIPPENSE 4:6
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

Ps. 50:15 15 
Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”

Ps. 23:4 4 
Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Ek kan my die trauma wat veral ons boerdery gemeenskap beleef nie eers voorstel nie. My bedoeling is ook nie om ʼn troossalfie oor enige iemand se wonde te smeer nie. Die Heilige Gees is ons Trooster en Hy doen dit met onderskeiding.

My hart gaan vandag uit na elkeen wat in troebel water verkeer. Daar is waarheid in ds. Izak se woorde. As jy spartel gaan jy onder. As jy tot rus kom bly jy verrassend behoue. Mag jy vandag sy teenwoordigheid beleef.