Beginsels vir ’n gelukkige lewe – 20

Stukkie vir stukkie

Die lewe het duur geword en baie wonder hoe hulle kop bo water gaan hou. Dit het my opgeval dat supermarkte ’n baie slim plan bedink het om mense te oortuig dat hulle veral vleis nog kan bekostig. Dit word nou per 100 gram adverteer. So sien ek vanoggend dat boerewors by ’n bekende supermark teen R7.99 per 100 gram aangebied word. Dit klink baie beter as nagenoeg R80 per kilogram, nie waar nie?

Die lewe en sy uitdagings kom somtyds oorweldigend en onbereikbaar voor. Dit voel heeltemal buite ’n mens se bereik en jy is gereed om handdoek in te gooi nog voordat jy begin het. Ek dink supermarkte help ons in die verband.

Breek wat van jou gevra word in veel Kleiner en bereikbare eenhede.

Dis een tree op ’n slag.

Dalk daarom dat die Here vir Josua sê, elke tree wat jy gee, gee ek aan jou. “Josua, moenie oorhaastig wees en halfpad uitsak nie. Moenie so in die toekoms leef dat jy van geen nut is vandag nie. Moenie jou oor môre bekommer as jy net vandag het om mee te werk nie”

Terugskouend moet ’n mens erken dat daar baie dinge is wat jy gedink het buite jou bereik is, wat toe wel verwerklik is. As jy goed daaroor nadink mag jy vind dat jy dit in fases gedoen het. Eers die plan en beplanning en dan stelselmatig gedoen.

Is daar iets wat vandag vir jou soos ʼn berg voel? (Ons is mos bekend met die idioom dat iets soos ’n berg voor jou lê).

As jy al berge geklim het sal jy weet dit was een tree op ’n slag.

Somtyds moet jy ’n wyle rus voordat jy die tog verder aanpak.

Somtyds is terugkyk waar jy vandaan kom groot motivering om te volhard.

Somtyds doen jy niks anders as om net die volgende tree te sien nie. Durf jy opkyk verloor jy moed as jy sien dat die bergtop nog vêr voor lê.

Aan die einde kom jy tog uiteindelik daar uit.

Gee vandag net een tree op ’n slag.

Breek die taak, roeping, opdrag en taak in kleiner hoeveelhede op.

Doen net wat jy vandag kan doen. God verwag nie meer van jou nie.

Môre is nog ’n dag.

Mag hierdie ’n merkwaardige dag wees vir jou.

JOSUA 1:3
Soos Ek vir Moses gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom

Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het. (Ou vertaling)