Kolskoot

Kleinseun het die afgelope naweek sy eerste bok geskiet. Skaars ses jaar oud trek hy ʼn stewige takbok wat ʼn mooi trofee gaan maak op honderd meter plat. Een skoot, kolskoot.

Pa Janneman verduidelik dat dit darem met ʼn jaar se voorbereiding gepaard gegaan het. Van kettie skiet na windbuks na .22 na die groot 243 (army!!) geweer. Soos wafferse jagter moes hy na die kolskoot deur al die seremoniële dinge gaan ten einde as ʼn ware jagter gesertifiseer te word. Oupa gril nou nog.

Kolskoot.

Sonde lui een definisie, is om die doel te mis. Sonde weerhou ons daarvan dat God se plan met ons lewens ten volle bereik word. Dit is soos gedurige kragonderbrekings (waarmee ons nou al goed bekend is) wat jou voortdurend frustreer. Uiteraard moet ʼn mens weet wat die doel is, waarheen jy op pad is, spreekwoordelik waarop jou visier gerig is. Om nie ʼn plan te hê nie is ʼn resep vir mislukking. As jy nie weet waarheen jy op weg is nie sal enige pad jou daar uitbring, word gesê.

Waarna mik jy en in watter mate word jou gerigtheid frustreer deur ʼn ongedissiplineerde gewoonte om toe te gee aan versoeking? Jy mag nodig hê om te oefen maar uiteindelik word dit deel van ʼn mooi verhaal as jy volhard.

Pa Janneman verduidelik dat die kort video wat dié blog vergesel deel uitmaak van ʼn groter “produksie”. Dié video gaan vertel hoe alles begin het totdat uiteindelike sukses gesmaak is. Ek herinner my dat kleinseun se eerste poging ʼn voëltjie was wat met ʼn windbuks geklits is. Hy wou stellig van die voetjies ʼn trofee maak want ʼn jagter moet iets hê om te wys.

Hoe lyk jou verhaal van voorbereiding? ʼn Mens is nooit daarmee klaar nie want doelwitte skuif en verbreed. Uiteindelik wil ons soos ons Mentor en Verlosser Jesus wees.

Kan jy onderhoudend gesels oor die doelwit waarheen jy op weg is?

Mik vir kolskoot.

1 KORINTIËRS 9:26

Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ‘n bokser wat nie in die lug slaan nie.