– Dis nie kammaland nie
Die lewe het sy uitdagings. Om daarvan te probeer ontsnap, dit te ontken, in opstand te wees, iemand, selfs God daarvoor te blameer, gaan ons nêrens bring nie. Ons is nie in die hemel nie. Ons is op aarde en ons werklikheid is stukkend en gebroke.
Mens is so geneig om fout te soek as dit nie in alles met jou voor die wind gaan nie. Dit mag fisies, emosioneel of selfs geestelik wees. Daar bestaan nie ʼn ideale toestand van volkome vreugde, vrede en vervulling aan hierdie kant van die ewigheid nie.
Dit hang saam met die oer sonde in die paradys.
Om Adam en Eva te verkwalik gaan ook nie help nie, ons weet immers dat ons self ook met dieselfde goed worstel as waarmee hulle gesukkel het. Dis dieselfde leuen wat dwarsdeur al die eeue na ons toe kom net soos in die eerste paar bladsye van die Bybel.
Die duiwel het Adam en Eva daarvan oortuig dat hulle sonder God kan regkom. Dit het ʼn groot klomp ellende tot gevolg gehad.
Ons wil ook somtyds ons onafhanklikheid van die hemel verklaar. Dit gee aanleiding tot baie gebrokenheid, in ons en rondom ons. Ons leef trouens midde ʼn kultuur wat sonder God probeer bestaan. Dit is waar al die wedywering, jaloesie, bitterheid, onregverdigheid, kortom sonde vandaan kom.
Die Here wil ons deur sy Gees bemagtig om midde die gebrokenheid koersvas te bly en nie handdoek in te gooi nie. Realisme is nodig om te oorleef. Dit is ʼn deur die sonde geaffekteerde werklikheid word so mooi gesê. Dis hier waar ons leer om uit die krag van God se Gees en gegrond in sy beloftes te leef en te oorleef.
Die merkwaardige is dat ons lewe en oorvloed kan hê midde so ʼn wêreld. Lees weer Matt 5 oor ware geluk.
Dit lê nie in die dinge wat ons bymekaar maak nie.
Dit lê nie in ʼn ongekompliseerde lewe nie.
Dit lê in ʼn verankerdheid in die Een wat alles onder beheer het, wat gesê het, dit is volbring, wat die dood en die hel oorwin het.
Los van die ongekontroleerde idealisme. Dit gaan nie gebeur nie.
Hy belowe ons dat ons stormweer nie hoef te vrees nie. Hy is Immanuel, God met ons. Hy is saam met ons in die boot. Ons sal nie vergaan nie.
Leef vandag voluit sy genade en voorsiening.
Hy dra jou waar jou knieë knik.