Battery gedrewe

Ons huis is vol speelgoed, hoe dan anders, ons is immers grootouers. Wanneer die kleinkinders kom kuier word speelgoed volgens elkeen se smaak en ouderdom na vore gebring en oupa speel net so lekker as die kleingoed.

Meeste speelgoed is deesdae battery gedrewe. Ek wonder stellig of dit ʼn slim plan van die vervaardigers is. Desnoods is daar ʼn geheime ooreenkoms tussen hulle en die vervaardigers van batterye. Teen die derde rondte kos die belegging in batterye meer as die speelding. Tog is dit alles die moeite werd.

Ek herinner my aan drie items wat vir baie plesier sorg maar wat iets oor die geloofslewe te sê het.

Daar is ʼn lekker groot vier by vier ( kamma) motor wat met ʼn afstand beheer werk. Die speler stuur die motor in allerlei rigtings soos hy verkies. Die beheer is dus op ʼn afstand. Die batterye is in die afstandbeheer apparaat alhoewel daar ook ʼn battery in die motor is. Tog gebeur alles op ʼn afstand. Sommige dink dit is hoe die Heilige Gees werk. Mens word deur die Heilige Gees soos ʼn robot van punt A na punt B gestuur. Jy is geprogrammeer om “bevele” uit te voer. Ek dink nie dit is hoe God dit bedoel het nie.

Daar is ʼn ander motor wat geluide maak maar nêrens gaan nie. Met die batterye intakt word ʼn knoppie gedruk en die karretjie sing allerlei vermaaklike wysies maar gaan nêrens heen nie. Dit lyk net soos ʼn motor en die verwagting is dat dit sal ry maar benewens die geraas gebeur daar niks verder nie. Die implikasie vir die geloofslewe is duidelik. Baie geraas maar geen daadwerklike aksie nie.

Dan is daar ʼn derde motor wat eweneens battery gedrewe is. Sodra dit aangeskakel word beweeg dit energiek vorentoe. Nou en dan loop die motortjie homself teen ʼn muur vas net om ʼn omdraai maneuver uit te voer en ʼn nuwe rigting in te slaan. Van moedeloos word en tou opgooi is daar nie sprake nie. Dis die ene entoesiasme en met aansteeklike energie soek dit pad na sy bestemming. Al kopstampend maar, sonder om op te gee.

Ek het ʼn idee dat dit is hoe dit met ons geloofslewe behoort te gaan. Die krag wat alles oortref kom van die Heilige Gees wat binne in ons woon. Ons word nie op ʼn afstand gestuur en beheer asof ons net ʼn meganiese item is nie. Ons maak nie net geraas maar kom nooit aan die beweeg nie. Ons onderskei al beteken dit dat ons onsself teen oënskynlike mure vasloop sonder om op te gee. Ons probeer en doen dit weer. Ons stel onsself fyn in op die inspraak van die Heilige Gees. Alhoewel ons nie altyd mooi hoor nie hou ons nie op met die oefening nie. Gaandeweg word ons al hoe meer soos Jesus.

Dit tog waarom dit gaan, nie waar nie.