Die dag kom vinnig nader waarop die nasionale verkiesing gaan plaasvind. Ek is seker dat lewendige debat regoor Suid Afrika gevoer word oor watter politieke groepering ondersteun moet word.


Dat elke Suid Afrikaner ʼn plig het om te stem, is absoluut so. Om nie te stem nie is om jou burgerlike plig te versuim. Die feit dat jy net een stem verteenwoordig, is misplaas. Dit is die kollektiewe waarde van die stemmery wat die deurslag gee en een stem kan daarin ʼn beduidende rol speel.


Stem volgens jou oortuiging maar stem ten minste. `n Stem vir een van die ander partye benewens die ANC is ʼn stem vir kontrole en toesig. Daar word in Engels gepraat van checks and balances. Niemand kan met absolute mag vertrou word nie. Daarvoor is die menslike natuur net te onbetroubaar. Mag korrupteer op die lang termyn, Ons moet mekaar op die tone hou deur mekaar tot verantwoording te roep.


Daar word regoor Suid Afrika byeenkomste gehou waar verskillende politieke partye die geleentheid kry om hul saak te stel. Sake soos grondonteiening sonder vergoeding en die sg. nasionalisering van die Reserwe Bank is emosionele aangeleenthede. Ander sake soos dienslewering of eerder die gebrek daaraan, ekonomiese bemagtiging, armoede en werkloosheid, geweld veral op die Kaapse vlakte en plase, gesondheid en instellings soos Eskom, die SABC en Inkomstediens sorg vir ʼn baie lewendige gesprek.


Die veel besproke kandidaatslys van die ANC wat name soos Malusi Gigaba, Bathlabile Dlamini en Nomvula Mokonoyane insluit, laat die wenkbroue lig.
Daar is sekerlik nie ʼn ideale politieke party nie. Leiers is mense en mense maak foute, sommige onbeskaamd. Mens moet jou deur jou gewete laat lei, moeite doen om die verkiesingsbeloftes maar ook “track record” van die partye na te gaan en dan te besluit wie regtig erns maak met kiesers en hul lewensomstandighede.


Gisteroggend onderweg na Pretoria luister ek na ʼn direkte uitsending van so ʼn verkiesingsdebat . Dit word in Sophiatown gehou en die ANC, DA, VF en UDM neem daaraan deel. Die gespreksfasiliteerder stel sake aan die orde en gee aan die paneel geleentheid om op die temas te reageer.
Soos reeds gesê kan die energie wat loskom, verstaan word. Geen wonder die ou mense het gesê ʼn mens praat nie godsdiens en politiek nie. Beide het die potensiaal om te ontaard in ʼn moddergooiery, verwyte en beskuldigings wat op mekaar afgevuur word. Dis nie anders in hierdie gesprek nie. Paneellede onderbreek mekaar sonder respek vir die ander, daar is geen waardering vir mekaar nie maar alles word in die stryd gewerp om die party wat deur daardie persoon verteenwoordig word, ongeloofwaardig te maak. Die gehoor raas so dat jy die argumente skaars kan hoor. Dis duidelik dat die ANC goed verteenwoordig is.
Die ANC verteenwoordiger verseker die gehoor dat geen plaas sondermeer afgeneem sal word nie. Grond wat nie gebruik word nie is in die visier. Daaronder tel baie grond wat in staatsbesit is.
Die argument dat grond gesteel is sorg vir ontsteltenis. Wie het gesteel, wanneer en van wie en waarom is die skuldiges nie aangekla en vervolg nie, vra die VF.
Nee, word geargumenteer, in 25 jaar van regeer het die ANC hoegenaamd nie gevorder met die bemagtiging van hul eie kiesers nie.
Intussen word gisteraand op nasionale TV berig van ʼn aantal plase in die Wes en Suid kaap wat reeds geoormerk is vir onteiening sonder vergoeding.
Klink of die verteenwoordigers van die heersende politieke party by verskillende inligtingsessies was toe hierdie saak bespreek is.
Intussen het mnr Ramaphosa ook die snaar van gesteel begin speel.
My vraag is hoe help dit ons in ons veronderstelde gemeenskaplike doelwit om Suid Afrika heel te maak. Dit lyk vir my dat ons die gebrokenheid verdere momentum gee. Niemand luister na mekaar nie. Elkeen veg vir homself eerder as ʼn gesamentlike, rondom die tafel sit en praat soos beskaafde mense wat respek het vir mekaar.
Die gehoor is merkbaar ontsteld oor vals beloftes en lewensomstandighede. Dis te verstane. Kiesers het net mooi genoeg gehad van retoriek wat versand die oomblik as die politieke party van die verhoog af stap.
Woord wek maar voorbeelde trek.
Gister se byeenkoms wat oor die radio uitgesaai is het plaasgevind in die Christ the King kerk. Die kontras tussen wie Hy is en wat Hy verteenwoordig en die wyse waarop mense met mekaar omgaan staan in skille kontras.
As ons almal voor daardie belydenis kan buig.
As dit ons vertrekpunt kan wees.
As ons mekaar by die kruis en die oop graf kan ontmoet.
As ons ons status as feilbare mense wat aspireer om die Koninkryk te laat kom kan besef en mekaar daaraan kan herinner.
As ons kan ophou om mekaar te verguis en eerder saam te soek na ʼn uitweg, kan dinge so anders wees.
As ons weer respek as vertrekpunt kan neem en mekaar nie as vyande nie maar as soekers na ʼn uitweg kan beleef .
Dit lyk vir my gaan nie voor 8 Mei gebeur nie.