Amper daar

Die hoop beskaam nie en teen die einde van die week word Suid-Afrika tot ʼn mate ontgrendel. Ons vertrou inderdaad dat ons met bekwame spoed sal vorder na die plek waar ons bewegingsvryheid nie meer tot die mate aan bande gelê word as wat tans die geval is nie.

Stel jou voor, selfs ʼn aandklok reël.

Dat ons wêreld totaal anders daar gaan uitsien na Covid-19 word oral onderstreep. Terme soos “nuwe normaal” word gebruik. Mnr. Ramaphosa droom van ʼn nuwe samelewing, een waar mense voortgaan om medemenslikheid te betoon, die armes nie alleen versorg word nie maar uit die spiraal van ellende gelig word. Ons verlang almal daarna. Vet weet, mense het nou lank genoeg swaargekry. Ons het ʼn verantwoordelikheid teenoor die wat sukkel om te oorleef.

Hierdie nuwe tyd, die nuwe normaal gaan alles van ons vra. Ons sal moet nuut dink oor ons prioriteite en hoe ons ons lewens voortaan wil leef.

In die tyd van die Rigters het die volk  na ʼn tyd van swaarkry ernstig na die Here geroep. In sy barmhartigheid het Hy op bonatuurlike wyse uitkoms gegee wat ʼn tyd van rus en verdieping te weeg gebring het. Dit was egter nie lank nie om daar het ʼn gemaklikheid, ʼn vanselfsprekendheid by mense begin groei. Klein jakkalsies het stelselmatig begin om die wingerde te verniel. Die spreekwoordelike padda in die pot het nie agtergekom dat die lewe ongemaklik warm word nie totdat dit te laat was. Dan het die proses homself herhaal.

Mense vergeet ongelukkig gou. Met verdrag word ons weer deel van die ou patroon van lewe. Die onderskrif daarvan is, elkeen vir homself.

Of die nuwe normaal volhoubaar ons deel gaan wees sal die tyd ons leer. Om swaar te kry en nie nuwe waardering te hê vir die klein dingetjies nie is dwaas en onbetaamlik. Ons moet nou reeds besluit hoe die wêreld lyk waarin ons wil woon na hierdie epidemie. Soos dit met hierdie tipe siekte is sal dit seker jaar na jaar herhaal maar met minder skade omdat die wetenskap asook opgeboude immuniteit mense sal help beskerm.

Tog sal ons onthou, herinner word aan die swaarkry en opoffering, die onsekerheid en trauma, die hartseer en worsteling. 

Mag dit wees nie hoever ons al weer weggedwaal het nie maar hoe veel ons geleer het.