Al die voëltjies sing

Ons dag begin vroeg. Suzette is kleuterskool hoof en moet vroegdag aanmeld.  Ek probeer ook vroeg aan die gang kom en die dag strek.
Eerste dinge egter eerste, derhalwe word die nuwe dag met ʼn koppie stomende koffie begroet. Regte koffie, plastiek koffie is uit!
Nee, ons is nie koffie snobs nie maar dis die een luukse wat ons vir onsself gun.
Dis duidelik dat die seisoen besig is om te verander. Dis nog donker as ons opstaan en die “koffie ritueel” aanpak.
Met verdrag begin die daeraad sy verskyning maak en teen die tyd dat ons gereed maak vir die dag kan ons darem sien wat buite aan die gebeur is.
Dis die voëltjies wat my vanoggend opval. Hulle sing selfs al is dit nog donker. Dis asof hul vrolike sang die dag nader roep. Die donker wyk en die lewe kry perspektief. Gaandeweg kan jy onderskei waarop dit aankom.
Efes. 1:9              
Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling,
sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees,
Donker kan lof nie oorrompel nie. Dit moet wyk, padgee. 
Donker se agenda word opgehef wanneer dankliedere en lofpsalms gesing word.
Donker kry nie die oorhand as jou aanbidding die heerskappy van God verkondig oor die magte van dood en duisternis nie.
Waag dit om God te loof en te prys, al is dit donker. 
Die helderstrale van God se teenwoordigheid begin stelselmatig die swaarmoedigheid van jou gees verdryf. Gaandeweg begin jy die probleem sien vir wat dit is. Net nog ʼn uitdaging wat, soos talle ander in die verlede, sy plekkie op die rak van probleme wat jou nie kon onderkry, sal kry nie. 
Ps. 18:30              
Want met U loop ek ’n bende storm, en met my God spring ek oor ’n muur.
Loof en prys Hom vandag en beleef sy wonderwerkende genade. 
Ek is so bly die voëltjies sing in die oggend.  Dit herinner my waar my krag vandaan kom.
Mooiste van mooie dae vir jou. 
Onthou Saterdag se TBN kanaal 343 DSTV. Chris Jones en Pieter van Niekerk praat oor Saam in Afrika.