Afgelope week se nuusgebeure.

Wat het Eskom, Jakaranda bloeisels, mnr Zuma, die Zondo kommissie, Eben Etzebeth en die Guptas met mekaar in gemeen?

Niks.

Maar dis deel van die afgelope week se nuusgebeure.

Ek woon tans ʼn kursus by in Pretoria en die Jakarandas staan vol in die blom. Dit is ʼn skouspel van pers en as die wind effe waai sien jy hoe die blommetjies soos gewyde sneeuvlokkies van die bome afval en ʼn lavender tapyt op die teerpad en sypaadjie vorm.

Jakarandas en eksamen skryf is sinoniem met mekaar. Derhalwe, sterkte en seën aan veral ons matrikulante vir die wie die eindeksamen gister formeel aangebreek het. Mag dit met ieder en elk goed gaan met ʼn stewige dosis onverdiende genade daarby.

Die woord van die jaar volgens die Pan Afrikaanse Taalraad is , hou vas, Zondo- kommissie.

Dié woord (terloops, verlede jaar was dit “grondonteiening sonder vergoeding”) het nie minder as 30775 keer in die media voorgekom nie.

Dit is ongeveer hoeveel keer regter Zondo moes hoor – I cannot recall, I do not remember, mnr Zuma se geliefde verskoning.

Die kat kom weer, lui die woorde van die bekende liedjie en dit is waar van ons geagte vorige staatspresident wat ,ek haal Beeld van Woensdag 16 Oktober aan n.a.v. sy verskyning in die hooggeregshof in Pietermaritzburg waar hy aan sy ondersteuners gesê het, “ons sal weer en weer en weer terugkom”.

Of hy sy dag in die hof sal hê voordat Avbob hom besoek, sal ons nog moet sien.

Ek sien juis ʼn advertensie langs die pad van die onderneming wat sê ..every funeral starts with a call.

Wanneer gaan ons begrafnis hou en geveinsd rou oor die verkwisting van bykans 1000 biljoen rand as gevolg van staatskaping. Ek kan die nulle nie eers tel nie maar ek wonder of dit simbolies is van wat ons hoop om terug te kry.

Gister is Suid Afrika weer spreekwoordelik in duisternis gedompel. Eskom het ʼn groot verleentheid geword vir Suid Afrika. Terwyl mnr Ramaphosa smeek vir beleggings trek Eskom dik strepe deur enige voorneme wat potensiële beleggers mag gehad het om in hierdie land te belê.

Geen verskoning maak meer hond af nie en Jan Publiek is moeg vir die ewige ondoeltreffendheid.

Enige onderneming wat sy sout werd is het gebeurlikheidsplanne in plek en gegewe die duiselingwekkende hulppakkette wat aan die kragvoorsiener uitgedeel word sou ʼn mens meer verwag.

Dan die gereelde versoeke dat kragtariewe weereens verhoog moet word. Nee wat, genade tyd is verby.

Ons donkerte het tot half nege gisteraand geduur. Ek het nie ʼn idee wat in Sewende laan gebeur het nie en is hewig ontsteld. Eergisteraand is die spanning in T en T tot kookpunt gedryf en skielik word ʼn mens in die duisternis gelaat. Dit is meer as wat enige sepie fan kan verduur.

Suzette en ek het lampe aangesteek en pure plaas by dowwe lig in mekaar se oë gekyk. Dit het sterk herinner aan vervloeë se dae toe die kragopwekker vroeg aand reeds afgesit is om diesel te bespaar en die gesin wasfiguurtjies soos ʼn eie skeppingsgebeure gevorm het totdat slaaptyd aangebreek het.

Those were the days my friend I thought they’ll never end.

Maar lyk my those days is weer terug.

Mens moet jou pad in die donker kan vind. Donker moet jou nie so van koers af dwing dat jy nie meer kan funksioneer nie. Donker het sy eie bekoring, dit onderbreek ons gejaagdheid en dooie roetine. Donker bring die sterre na vore. Dit laat jou op jou rug lê en jou nietigheid in die lig van die uitspansel besef.

Dit vul jou met verwondering.

Dit was donker toe God sy nou bekende woorde gespreek het, “laat daar lig wees” en die chaos voor God se ordereëling gevlug het.

Die vraag is, kan ons met donker vriende maak?

Kan ons donker en die donker tye in ons lewens hanteer?

Kan ons God in donker raaksien en raakloop?

Somtyds is donker tye die beste tye, tye dat ons die naaste aan God kom vir die die donker soos lig is.

Om af te sluit ..Go bokke Go.

La la la la la la

La la la la la la

La la la la La la la la la la