Die verhaal van Gideon gryp my steeds aan die hart. Die bangerige jongman kry opdrag om die beleërde volk Israel van die Medianiete te verlos. Lg. se getalle word
as volg beskryf:
Rigters 7: 12
Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat die vlakte ingeval het, was so baie soos sprinkane, en die kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos die sand aan die see.
Daarbenewens is die Medianiete onverskrokke en volg hulle ʼn verskroeide aarde beleid wat beteken dat niks ongeskonde agterbly as hulle deur ʼn gebied getrek het nie. Alles wat lewe, selfs die bome, landerye, diere, ens. word doodgemaak en verwoes. Geen muur bly staan nie. Later tree hulle in koalisie met ander ewe vyandiggesinde magte wat die aanslag teen die jong tot onlangs toe nog slawe en woestynbewoners des te meer gevaarlik maak.
Gideon vra by meer as een geleentheid ʼn teken dat hy inderdaad reg gehoor het. Wanneer hy uiteindelik ʼn bekwame 22000 man aantree vind God dit nie aanvaarbaar nie. Die manne moet dramaties ingekort word. Ook 10000 is te veel want hulle sal hulself op die skouer klop en nie aan God die eer gee nie. Daar moet geen ander verduideliking wees as dat die Here ingetree en die oorwinning gegee het nie.
Met menslike wysheid is dié strategie tot mislukking gedoem. Gesonde verstand sê dat 300 man nie die, tot die tande bewapen Medianiete, kan verslaan nie. Liewer handdoek ingooi as lewensverlies.
Die afloop van die verhaal is bekend. Met ʼn slim strategie omsingel Gideon die kamp van die vyand en die soldate soos een man hef die oorlogskreet aan terwyl kruike gebreek en ramshorings blaas word. Die vyand in hul poging om weg te kom klim letterlik onder mekaar in terwyl ander op die vlug slaan. So behaal Israel die oorwinning met ʼn skrale 300 man.
Jy mag vandag voel dat wat jy tot jou beskikking het ver tekort skiet. Somtyds word ons oorweldig deur ons roepingsbesef enersyds en die skrale middele waarmee ʼn mens moet werk. Daar is nie ʼn verskil tussen die Gideonsbende en hul onwrikbare geloof (onthou daardie manne moes self ʼn paar somme maak) en die wonder wat Jesus in die Nuwe Testament doen met brood en vissies nie. Hy doen die onmoontlike met net ʼn bietjie. Hy vra inderdaad wat jy het en doen ʼn wonderwerk, doodgewoon omdat Hy kan en Hy vir ons omgee.
Rigters 7: 21-22
Hulle het rondom die kamp gestaan, elkeen op sy pos. Toe die drie honderd man die ramshoring blaas, het die hele kamp op die vlug geslaan, hulle het geskreeu en gehardloop, en toe het die Here dit bewerk dat hulle mekaar daar in die kamp doodmaak. Die kamp se mense het gevlug tot by Bet-Sitta na Sereda se kant toe, tot by die grens van Abel-Megola naby Tabbat.