2 KORINTIËRS 3:5

Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God  

Die uitnemende stiltetydreeks van dr Chris Malan (God se plan met jou lewe)  stel dit in week 2 van die handleiding duidelik dat God se indiensnemingsvereistes anders mag wees as die van die wêreld. 
Uiteraard soek werkgewers na die begaafste en bekwaamste kandidaat vir die betrokke pos wat adverteer word. Niemand kan die potensiële werkgewer daarvoor kwalik neem nie. Dit is immers sy verantwoordelikheid om toe te sien dat die belange van die onderneming op die beste wyse gedien word. 
Aandeelhouers verwag ʼn bekwame opbrengs op hul beleggings en indien dit nie gelewer word nie kan die onderneming homself in ʼn benarde situasie bevind.
Derhalwe moet werksoekers ook seker maak dat hul CV ʼn betroubare en geloofwaardige weergawe van hul talente en gawes verteenwoordig. Die persoon wat aansoek doen vir ʼn betrekking kan nie bekostig om beskeie te wees nie. Elke denkbare aanbeveling word aangeheg in die hoop dat jy sal kwalifiseer bo ander, veral in ʼn tyd waar werk skaars is.
God werk egter anders. Hy word nie beïndruk met ons CV’s nie. Dit beteken nie dat daar nie sin is in die wyse waarop God roep nie. Die talente en gawes wat nodig is om sy wil uit te voer is latent teenwoordig en word deur gehoorsaamheid en wilskrag geaktiveer, ʼn Mens staan dikwels verstom oor wat hier binne in jou skuil en hoe die Here dit wil aanwend vir sy doel en eer. Hy vra beskikbaarheid bo bekwaamheid. 
Die meeste persone wat deur die Here gebruik is is onwaarskynlike kandidate vir die betrokke taak. Tog bereik die Here soveel meer deur die lewe van iemand wat beskeie beskikbaar is as ʼn hoogmoedige selftevrede mens.