28 Februarie 2017 – Ons Vader wat in die hemel is.

Ons Vader wat in die hemel is (Matteus 6)
Die Gees roep ons ons Abba Vader (Romeine 8)


Ek het die voorreg gehad om die afgelope naweek deel te wees van ʼn manne kamp. Die geleentheid word deur Manne van die Woord fasiliteer en het by Mabula plaasgevind.

Wow dis besonders om so ʼn klomp manne (digby 100) uit volle bors te hoor loof en prys. Dis asof daar ʼn vrymoedigheid deur die Gees was wat manne aangespoor het om sonder terughou met alles wat hulle het te sing.
Die temas het met persoonlike geloofsekerheid en die Vader hart van God begin.
Om net weer te besef dat die Vader deernis en liefde jeens elke mens koester. So baie mense leef met die perspektief van ʼn  wraakgierige God wat nie kan wag om straf uit te deel nie. So baie van ons verkeerde verstaan van God kom vanuit die ervarings wat ons met ons aardse vaders gehad het. 
Dit was opmerklik hoeveel van die manne getuig het van outokratiese pa’s wat min liefde gewys het maar onredelike verwagtinge gehad het. Ons verwyt nie ons aardse pa’s nie omdat hulle ook maar so geleer is en nie die geleenthede gehad het om die tientalle toerustingsgeleenthede en nuwe insigte wat deesdae beskikbaar is  te kon beleef en verken nie.
Ons hoef egter nie dieselfde foute te maak nie.
Mag ons kinders in en deur ons optrede, veral as vaders, iets leer en ervaar van die sagtheid, deernis, omgee, begrip, liefde, ondersteuning en wysheid wat ons mag geniet vanweë ons verbondenheid aan ʼn hemelse Vader.