27 September 2017

27 September 2017

1 Kron. 4 :10 Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie. God het laat gebeur wat hy gevra het.
Ek luister vanoggend met een oor hoedat daar gepraat word oor Suid Afrika se bod om die 2023 wêreld rugby beker toernooi aan te bied.

Dit is ʼn gawe ses jaar van nou af.
Dit is opmerklik hoedat sommige instansies, besighede en staatsdepartemente toekomsplanne bekend maak en dinge in plek kry dat daardie planne kan materialiseer.
Dit het my laat wonder in watter mate gelowiges planmatig na die toekoms op weg is (en die kerk..?)
Dit is inderdaad so dat die Bybel sê dat ons ons nie oor die toekoms moet bekommer nie. Ons leef uit God se genadehand en kan nie en enkele dag by ons bestaan voeg nie. Dit bring rustigheid dat God so volledig vir ons verantwoordelikheid aanvaar en dat ons veilig en geborge is by Hom.
Dan weer het die Here vir ons verstand gegee. Geloof en denke, verstand, beplanning en gerigtheid op die toekoms staan nie teenoor mekaar nie. Die Here verwag van ons om te besin waarheen ons op pad is en wat in plek moet kom om dit te bewerkstellig.
Ses jaar van nou af..wat visualiseer jy met betrekking tot jou eie lewe?
Watter dinge het jy in plek ?
Wat moet nog gebeur?
Bid en vra die Here om iets van die pad vorentoe aan jou te openbaar.
Immers, Hy weet wat Hy vir jou beplan, ʼn toekoms, ʼn verwagting.

Gebed
 
Here, vergroot my grondgebied.
Wys my waarheen U met my op pad is en leer my om deeglik te beplan sonder om te dink dat ek dit alleen kan doen.
Amen.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}