25 Mei 2017 – Hemelvaart

Hemelvaart 2017
Hemelvaart is nie meer ʼn openbare vakansiedag nie maar Christene het nie ʼn “afdag” nodig om die fees te vier nie. Miskien is dit ʼn seën dat ons leer om die realiteit en implikasie van God se werk onder en in ons te vier en te beleef in en te midde van die werksaamhede van elke dag.
Wat beteken Hemelvaart dan as die verkeer buitengewoon druk is, my baas nie in ʼn goeie bui is nie, kliënte onbedagsaam en onredelik is?
Wat beteken Hemelvaart as ek nie gesond is nie, my gesinsopset nie ideaal is nie en Suid Afrika enorme uitdagings in die gesig staar?
Hemelvaart getuig van Christus se triomf oor die dood en die magte van die duisternis. Die prys is betaal, die offer was volmaak en volledig, versoening is bewerk, toegang tot die Vaderhart vir gewone gelowiges is verkry (die gordyn het immers geskeur, van bo na onder), die duisternis is getroef, die bose is oorwin, die graf is leeg, die dood heers nie meer oor mense nie. Daar is Hoop want ons Verlosser regeer van die regterhand van die Vader in ʼn posisie van heerlikheid.
Ek kan vandag, te midde van en ten spyte van met groot oortuiging, verwagting en opgewondenheid leef en beleef want my Verlosser leef en regeer.
Geseënde hemelvaart.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}