15 Mei 2017 – Winter

GENESIS 8:22
“So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.”
Die winter het oornag sy koue greep op ons gekry. Waar ek in my studeerkamer sit en tik is my vingers verkluim en dom. Koue en winter is sinoniem met mekaar.
Winter is soos alle ander seisoene ʼn noodwendigheid. Jy kan jou kalender skuif net soos jy goeddunk maar van winter gaan jy nie ontslae raak nie. Dis ʼn gegewe, dis deel van die natuurlike orde van die lewe.
As ek kon kies sou ek ʼn ewigdurende somer gehad het. Sonskyn dae, lowergroen grasperke, bome vol van vrug, lafenis in die koel waters van die see by Ballito, vit D ingedrink deur my hele menswees. Lus en lewe.
Die winter het ook sy betowering. Ek moet nuut dink oor die winter anders gaan ek nie hierdie een oorleef nie. God is ook in die winter. Die winter is stil word tyd, eenkant kom en besin oor wat regtig saak maak. Dis rustyd vir die groei seisoen wat voorlê en die energie wat dit van my gaan vrae. Dis tel jou seëninge tyd as ek dink aan die warm wat ek kan aan en afskakel na welbehae. Dis kuier tyd saam met vriende by ʼn kaggelvuur. Dis doodgaan tyd vir alle peste wat in die somer toeslaan. Dis hiberneer, wag, diep grawe, beloftes versamel.
Mag jy ʼn aangename winter belewe.
Groete
Jannie Pelser
Rant en Dal Gemeenskapkerk

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}