15 Maart 2017 – Suid Afrika onder beleg

Suid Afrika onder beleg.  

Die voorblad artikel in Beeld verwys. (Ek vlug nie, Beeld Dinsdag 14 Maart 2017)
Dis nie net die boere wat onder beleg is nie, (Nicci Simpson se woorde), dis elke vredeliewende, Godvresende en lojale burger van hierdie land wat onder beleg is.
Die koerant wemel van berigte van brutale moorde. Die parlementsopening gaan gepaard met ʼn skare soldate en polisie beamptes wat ons geagte staatspresident moet beskerm maar broodwinners, landbouers, werkverskaffers en entrepreneurs word afgemaai. Dit skree ten hemel. 
Die bronne wat verkwis word (duur motors bladsy 2 Beeld Dinsdag 14 Maart), 5.1 miljard by die SABC, miljoene by Prasa, Nkandla, duur hotelverblyf, om maar ʼn paar sake  te noem, kon burgers na behore beskerm het en armes van huise en sekuriteit voorsien het. 
Die ironie is dat dit nie swak mense verhoudinge is wat aanleiding gee tot hierdie brutaliteite nie. Nie dat enige brutaliteit ooit regverdig kan word nie. Dis meermale die barmhartige Samaritaan self wat vermoor word.
Die burgers van Suid Afrika eis verantwoording! (maar die ministers is nie op hul pos nie. Beeld 14 Maart bladsy 2)
Iewers moet ʼn stop teken, ʼn cul de sac, ʼn pasop – “afgrond voor” teken,  aangebring word.
As dit so is dat ʼn land die regering het wat hy verdien moet die burgers wakker word.
`ʼn “Moderne kruisiging” word die aanval op Nikki Simpson genoem. (www.netwerk24.com/Nuus)
Daar staan reeds ʼn kruis op ʼn heuwel buite Jerusalem. 
Miskien moet ons dit ernstig neem. 
Dit kan tog nie so aangaan nie.