14 Februarie 2017 – 2 Korintiërs 13:1

2 Korintiërs 13:1

Dit is nou die derde keer dat ek na julle toe kom. “Deur die getuienis van twee of drie getuies moet elke saak bewys word,” sê die Skrif

Ons leef in ʼn tyd waar sosiale media toenemend met ʼn knippie sout geneem moet word. Die hoeveelheid boodskappe wat ʼn mens elke dag bereik kan moeilik deurgewerk word. Wat die saak baie moeilik maak is dat die geloofwaardigheid van boodskappe deesdae nie sondermeer aanvaar kan word nie. Die agendas en redes waarop misleidende boodskappe versprei word gaan my verstand te bowe behalwe dat dit enorme energie verg om deur al die materiaal te sif en te besluit wat geloofwaardig is.
Christene veral is baie goedgelowig, somtyds effens naïef wanneer dit by boodskappe en inligting kom wat op sosiale media versprei word. Sulke boodskappe word sondermeer aangestuur, desnoods met aanmoediging dat dit vir minstens vyf of tien mense gestuur moet word. Ander kere moet die hemel jou behoed dat jy die “ketting” breek.
Of Christene word wreed in Irak deur Isis soldate vermoor en kinders onthoof, “op hierdie oomblik”, of kerke word in Indië afgebrand, “op hierdie oomblik”. Of 148000 mense is bymekaar om onder aanstigting van Julius Malema witmense by te kom ( maar geen woord oor die nuus of ander media) of  vure brand die hele Kaapland vol.
Ek dink die teks is rigtinggewend. Tensy die ontvanger van ʼn boodskap dit deur minstens twee of drie ander bronne kan bevestig moet dit liefs nie aanstuur nie. Daar is maniere op uit te vind of boodskappe waar is of nie.
Christene se oordeelsvermoë, integriteit, onderskeiding en geestelike volwassenheid kom onder verdenking wanneer ons deel word van hierdie vorm van skinder en saampraat.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}