Voëltjies het nie horings nie

Janneman, my seun, is ʼn ywerige jagter en sy huis (en kantoor en motorhuis en..) hang vol trotse trofees. Jagters is ʼn spesie op hul eie. Jy kan hulle net liefhê!!

Klein Juvan (5) het dit in sy gene. Om saam met sy pa die jagtersinstink vrye teuels te gee, is reeds sigbaar.

So skiet hy verlede week sy eerste voëltjie met sy eie windbuks. Ewe trots vra hy vir Adam, die opsigter, om die voëltjie se bene af te sny en aan hom te gee, dit moet huis toe saam met hom.

Sy pa wil weet wat wil hy dan met die bene wil doen, waarop hy ewe kordaat antwoord” ʼn voëltjie het mos nie horings nie” . (die bene moet dus as trotse trofee dien).

Die hele gedagte van iets met jou saamneem om ʼn belangrike moment in jou lewe te gedenk en in herinnering te roep, bly my by.

Ons vergeet só gou.

Ons is só bederf met momente dat bitter min daarvan uitstaan.

Die belangrikste moment van elke dag is die ontmoeting met die Here.

Jy móét iets daarvan saamneem.

Jy moet dankbaar daarmee spog.

Net maar dat die vernuftigheid jou nie toekom nie.

Dis alles genade.

Dis wat Hy gedoen het en steeds doen wat jy met jou die toekoms saamneem.