Op pad na Pretoria is daar ʼn advertensie bord met hierdie woorde op “units to rent”.
Uiteraard adverteer dit eenhede in ʼn sake kompleks of iets dergeliks. Dit het my egter aan ʼn mens se geestelike lewe laat dink.
Die bose is opsoek na huur eenhede. Gewoonlik adverteer hy nie aanvanklik vir die hele gebou nie. Hy werk subtiel en gestadig totdat hy in sy volle verderflike mag toeslaan en eienaarskap opeis. Dis soos mense wat ʼn perseel onwettig beset. Iewers maak hulle aanspraak op okkupasie reg.
Die vraag is natuurlikheid, is jy in die mark? Het jy eenhede beskikbaar? Eenhede wat nie deur die Heilige Gees beheers en geokkupeer word nie.
Jy is duur gekoop en die prys is betaal. Jy behoort nie aan jouself nie, jy en ek en ons is Syne. Elke millimeter van ons bestaan. Elke gedagte, voorneme en asemteug.
Is dit so met jou?
Die bose betaal baie goed. Hy belowe om ʼn deugsame buurman te wees, nie te veel inbreuk te maak op jou tyd, energie en bronne nie. Hy teken selfs die dokumente maar hy is ʼn leuenaar. Die vader van alle leuens. Geslepe, onbetroubaar en skelm. As hy eers die voet in die deur het kry jy hom nie maklik om afstand te doen nie.
Hy trek ook nie alleen in nie. Hy het ʼn hele paar tjomme wat nie kan wag om laataand partytjie te hou nie.
Dit is uiters riskant om sekere aspekte van jou lewe van God te probeer weghou. “My Sondag is die Here sn. maar Maandag tot Saterdag is myne. Hande af”.
Dit kan jou duur te staan kom.
Die Bybel sê.. 
GALASIËRS 5:25
Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}