Tot-siens Johan

Vandag begrawe ek my swaer, Johan Ras, in Port Elizabeth.
Johan en ek ken mekaar van kleintyd af. Ons was saam in Pretoria-Wes se hoërskool.
Ons was saam in die lugmag, Kanaries. Kol. Meintjies, Samajoor de Swart en tannie Meisie Crouse se dae.
Johan het gesing. Green grees grass of home. So mooi.
Ons was saam in bungalow 2484a.
Ons het familie geword toe hy en my sus Hettie getroud is.
Dis jare en jare en jare van saamwees.
Die lewe was nie altyd vriendelik met Hettie en Johan nie en hulle het hul vier kinders onder baie uitdagende omstandighede grootgemaak.
Dit was meet en pas en pas en meet en toe kom die siekte.
Johan se gesondheid het begin probleme gee en baie druk op die familie geplaas.
Desnieteenstaande was Johan en Hettie se geloof onwrikbaar.
Johan was baie kreatief en het groen vingers gehad. Hy was ʼn mens-mens en mense het hom baie geniet.
Ek sien hom so duidelik in my gees, dis asof hy langs my staan en my voorsê.
Toe ek en Suzette getroud is, het Johan en Hettie vir ons ʼn broodboompie as geskenk gegee. Ons het dié in ʼn groterige pot geplant en soos ons getrek het, het die boom saamgetrek. Ons is op 12 Desember 1981 getroud… rondom 37 jaar. Dis hoe oud die boompie is.
Die broodboom het groot geword, te groot vir die houer en die houer het gekraak. Sedertdien staan die boom stil.
Die afgelope week merk Suzette op, die boom sal nie verder groei nie. Die pot is te klein.
Dis my boodskap by vandag se gebeure. Daar kom ʼn dag dat ons die aardse behouering ontgroei. Dis te klein. Ons smag na meer, groter, heerliker.
Ons wil en moet uitbreek, wegbreek, die toekoms tegemoet.
Johan het te groot geraak vir die aarde, Jesus het ʼn plek voorberei (Joh.14) en hom kom haal.
Daar is spasie, vryheid, moontlikheid en potensiaal.
Lekker verder groei Johan.
Ons sal jou mis.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}