Spore in die land

Spore in die land

Dagsê

Dieselfde dominee van wie ek gister gepraat het (gaan jy of groei jy?) sê nog ʼn mooi ding. `ʼn Suksesvolle boer se spore lê in die land, nie net die van sy bakkie nie.
Die bedoeling sekerlik dat die boer met sy bakkie rondry op sy plaas en hom verlustig in die arbeid van ander mense sonder om self betrokke te raak.
Die grond moet aan sy skoene klou, hy moet die reuk van vars grond met hom saamdra want hy is intens betrokke by die boerdery.
Ek ken ʼn boer met ʼn baie groot beeskudde. Hy ken elke bees op die naam wat hy gegee het, letterlik elkeen. Hy kan die familie verbintenis van elkeen uitlê, “dié kalf is daardie ma se kind, dis die pa en die boetie is nou al lekker uitgegroei, daar loop hy”.
Dis vir hom bitter moeilik om sy beeste op die gereelde groot veilings te verkoop sê hy. Dis ʼn deel van hom wat weg is.
Hy verwys na die diere op sy plaas (sy vrou boer ewe energiek saam met eksotiese skape ens. – ek weet mos nie van boerdery nie, hulle lyk eksoties) as harte. Daar is soveel harte op die plaas.
Die onlangse droogte het hulle intens geraak want die harte kry swaar.
Toe ʼn aantal vee tydens ʼn rooftog genadeloos afgeslag is het hy en sy vrou gehuil.
Dié boer is nie ʼn “bakkie” landbouer nie, sy spore lê op die plaas.
Daarom is hy ook uiters suksesvol.
So baie Christene is “bakkie” Christene. Ons ry verby die nood maar klim nie uit nie.
As ons dit nog waag lewer ons ʼn pakkie af met ʼn seënwens.
Dan ry ons verder.
So boer ʼn mens nie in God se Koninkryk nie.
Waar lê jou spore?
Wie se lewe word op persoonlike vlak geraak deur jou betrokkenheid?
Here, ek wil nie ʼn “bakkie boer” op U plaas wees nie.
Ek gaan dit in die landerye waag.
Amen
Jannie Pelser
Sal so bly wees as julle “share” en “comment”.
Dis lekker om van julle te hoor.

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}