Ek skryf graag oor die goed wat ek hoor en sien. As ons sensitief is sal ons die Here stem op verrassende plekke hoor.
My seun Zuan  is onlangs met René getroud. René het ʼn krimpvarkie as troeteldier gehad. Nou het hulle ʼn hondjie gekry en dié het hulle die hele nag uit die slaap gehou, nog klein en vreemd.
Mario (my vriend) en Zuan gesels oor troeteldiere en Zuan vertel dat dié krimpvarkie nie alleen aggressief is as jy naby kom nie, maar bykans altyd slaap. Van verhouding, sê hy, is daar geen sprake nie. “ ʼn Mens wil darem ʼn verhouding hê met goed in jou lewe anders is dit ʼn onbevredigende ervaring”. 
Selfs al het die klein brakkie die hele nag gehuil kon hulle troos en betrokke wees by hom  totdat die “kleinding” tuis gekom het. Ten einde laaste het Zuan ʼn hemp van hom en wat René aangehad het (werk mos so) in die hond se mandjie gesit. Dié nabyheid het troos en rustigheid gebring en uiteindelik kon die “gesin” tot rus om.
“Jy moet darem ʼn verhouding kan hê met jou troeteldier”, ja alle dinge in jou lewe.
Ons is verhoudingsmatig geskep, deur God gemaak om op vertikale en horisontale vlak, met God en met mekaar, in verhouding te staan. ʼn Eenrigting verhouding (René het immers die krimpvarkie versorg) is op die lang duur onbevredigend en ʼn mors van tyd. (Die krimpvarkie het nou ʼn iemand tuis gekom wat met dié goed broei. Dalk is daar darem hier, so krimpvarkie teenoor krimpvarkie, ietwat van ʼn verhouding!)
Die wonderlike waarheid is dat honde, soos baie ander troeteldiere, verhoudingsmatig optree. Hulle reageer op warmte en toenadering en hardloop weg vir bedreiging.
Trouens, word  nie gesê dat ʼn hond ʼn mens se beste vriend is nie?
God het sy Seun gestuur en ons daarmee uitgenooi na ʼn intieme verhouding met Hom. Die pad van God se hart is oop. Sy hand is na ons uitgesteek. Wat beleef Hy van n verhouding met ons.
Is ons dalk ewe koud en ongevoelig teenoor hom as die krimpvarkie?
Hoe lank nooi God jou al uit?
In die mate waarin ons daardie verhouding koester reik ons ook na mekaar uit.
Wie God ken, kan sy naaste nie beswadder nie. 
Miskien wil jy vandag nuut ja se vir ʼn verhoudingsmatige lewe.