Skatryk maar brandarm

Moet asseblief nie tussen die lyne lees dat ek die speel van die lotto en ander soortgelyke inisiatiewe propageer nie. Ek dink die kerk was vir te lank voorskriftelik in wat met die hart van die Evangelie ( Jesus Christus en Hom as die gekruisigde en opgestane Here ) min te doen het.

Elkeen moet maar vir homself besluit. Ek wil doodgewoon die lotto as ʼn metafoor gebruik. Die afgelope week het iemand 232 miljoen rand gewen deur die lotto te speel. Die kaartjie is iewers in die Kaap gekoop en Saterdag se koerant dra ʼn berig in die verband. Stel jouself dit voor, wat sou jy met 232 miljoen rand gedoen het? Die ellende is dat die prys nog nie opgeëis is nie. Die wenner is salig onbewus daarvan dat hy of sy daardie reuse bedrag ryker geword het. Die persoon is oornag ʼn multi-miljoenêr maar is salig onbewus daarvan. Ek stel my voor dat die speler uit desperaatheid die laaste geld wat hy gehad het op die geluksgodin gaan waag het.


Dit mag ʼn straatbedelaar wees wat uit sy karige dagverdienste die kaartjie gaan koop het. Die persoon bly heel moontlik onder baie uitdagende omstandighede en het dit nie breed nie. Elke jaar staan hy hoed in die hand by die skool omdat hy nie skoolgeld kan bekostig nie. Soos baie van ons droom die persoon van ʼn beter toekoms maar het reeds vrede gemaak dat dit hom nie beskore is nie. Intussen het hy ʼn multi-miljoenêr geword en sal hy baie kreatief moet wees om die geld in een leeftyd te bestee.

Tog bly die prys onopgeëis. In Christus Jesus het ons die nuwe lewe deelagtig geword. Jesus het gesterf sodat ons kan lewe. Wie in Hom glo het oorvloedige lewe. Ons meet dit dikwels in materiële terme maar dit is veel meer as dit. Jy kan met aardse skatte steeds verlore gaan, geestelik arm wees en sonder hoop lewe. Geld kan gesondheid, vervulling, betekenis, vrede en ware geluk ( Matteus 5) nie koop nie. Die kerk sit vol mense wat bely dat Jesus hul persoonlike Verlosser en Saligmaker is maar hul lewens getuig nie van oorwinning en vreugde nie. Hulle kla gedurig en is ondankbaar en onvervuld. Hulle haal asem maar leef nie waarlik nie. Hulle besef nie die krag, leiding en genade wat deur die Heilige Gees na ʼn mens toe kom nie.

Hulle is skatryk vanweë die offer wat Jesus gebring het maar leef brandarm. Hulle word soos 1 Kor.3 ons leer gered maar soos deur vuur heen. God het sekerlik iets beter in gedagte vir ons as sy kinders.

Dalk is dit waarom Christene by die wêreld ongeloofwaardig en onaantreklik is. Ons lyk net soos die desperate mense wat elke dag ons pad kruis. Jy sal nie se dat die persoon “gered” is nie. Is jy ook brandarm te midde van die beloftes wat God in sy Woord gee?

Groete

Jannie Pelser