Saam op die Damaskuspad

Lynette Francis, ʼn bekende op RSG is vanoggend in gesprek met ʼn aantal deelnemers oor ʼn baie sensitiewe saak. Sonder om die gesprek op die tafel te plaas het haar inleidende opmerking, asook die van een van die persone wat ingeskakel het, my diep aangespreek. Sy het haar program begin deur te vra waarom die kerk en mense met wie hulle oënskynlik ʼn probleem het nie saam op die Damaskuspad kan stap nie. (Onthou tog dat die kerk na ons as gelowiges verwys).

Damaskus is die pad van kentering, selfs van konfrontasie en dieper kyk. Paulus het hom mos baie jare gelede op hierdie pad bevind. Dit was ʼn ontmoeting met die lewende God wat hom van ʼn vurige wetsgeleerde verander het na ʼn simpatieke Godsman.
Daar is soveel hartseer in die wêreld. Daar is soveel mense wat reeds baie swaar kry.

Waarom sou ons as kerkmense, meermale medegelowiges, die lewe vir sulke mense nog verder kompliseer? Is ons nie maar almal aangewese op die genade van God en sy liefde vir andersins helverdiende sondaars nie? Wat maak my beter as enige ander persoon en wat gee my die reg om ander in die naam van God uit te sluit? So bel iemand in en sê dat ons sommige mense vandag lewendig op die brandstapel plaas.

Hoe beleef mense die kerk? Hoeveel mense hunker na insluiting maar bly op ʼn afstand staan?
Ek is bevrees dat n.a.v. vanoggend se program ongelowiges net hul koppe kan skud.