Sien video onderaan asb.
Die twee rakkers het die naweek gekuier. Soveel energie het ek nog nie gesien nie. Waar hulle dit in daardie ses jarige lyfies wegsteek, weet ek regtig nie. Dit hardloop en spring vir ʼn vale sonder om moeg te word. Oupa keer net dat hulle nie iewers van ʼn trap af foeter of die drie dubbele bollemakiesie op die springmat hul beseer nie.
Kinders het engele, ek twyfel nie vir ʼn oomblik daaraan nie.
“Wat wil julle vanoggend doen” vra ek Saterdag oggend. “Games centre” kom dit asof hulle dit afgespreek het.
Verskeie ander voorstelle word summier van die hand gewys. “Boring” bevestig dat oupa se mooi gedagtes geen hond haaraf maak nie.
Oupa is nie heeltemal ge-rat vir die lawaai by die speletjies plek (Silverstar) nie. Ek raak verbouereerd met die geweldige geraas wat nie beteken dat ek oud is nie!!
Ek dink stelling geen mens kan daar aan enige iets betekenisvol dink behalwe oorlewing nie.
Met die “tokens” gewapen stap ons na die verskillende geldwolf masjiene toe. Drie “tokens” hier en twee daar.
Die kinders weet presies hoe die toerusting werk. Teen die tyd dat ek dit uitgemaak het moet die volgende “muntstukke” weer ingegooi word.
Die video wat ek aanheg vertel iets van die gedagte wat by my opgekom het toe ek die twee op die motorfietse gesimuleerd sien jaag. Kyk asb. daarna.
Die frase wat in my gedagte begin draai het was “ry die lewe bloots”. Dis (die lewe) eenmalig, dis avontuurlik, dis ʼn geskenk, dis tydelik.
So baie van ons lewe met ʼn lang gesig wat van vermoeienis en kommer spreek. Daar is min vreugde. Die sorge suig elke stukkie energie uit ons uit. Saans Ons slaan ons dood neer op die bed en sug as die wekker soggens afgaan.
Dis nie (meer) lekker nie.
Dis ʼn beslommernis.
Ek dink nie dit was God se bedoeling nie.
Klim op en ry die lewe bloots.
Dit gaan oor meer as net asemhaal !!