Proceed to the route

Die frustrerende opmerking (proceed to the route) wanneer ʼn mens pad soek word meermale gehoor met die gebruik van hulpmiddels soos “Google maps”, ens. My eerste verstaan is dat ʼn mens die laaste bekende baken in die oog kry, die plek waar jy ingekom het, waar die pad as`t ware begin.

Ek weet nie of my definisie heeltemal korrek is nie maar dit hoe ek daaroor dink.

My eerste vraag is gewoonlik, waar is die “route” waarheen ek op weg moet wees juis omdat ek so maklik rigting belemmerd raak?

Ek kies koers en dis die lank nie of die stem begin my teregwys en in ʼn ander rigting dwing tensy ek (wonderbaarlik) tog in die regte rigting reis.

Dié bekende opdrag waarmee motoriste al so bekend geword het, word interessant verwoord. Ek sou eerder dink “return to the route” is die aangewese. Terwyl jy egter op reis is en moet vorder is die aangewese dat jy sal “proceed”.

Ek wonder stellig of daar nie ʼn stuk Evangeliese waarheid in die woorde opgesluit is nie. Soms raak ons so verdwaal in ons denke, emosies, menswees dat ons totaal verstrengel raak. Jy weet nie herwaarts of derwaarts nie. Dis dan dat jy moet vra na die laaste vaste verwysingspunt in jou reis.

Geestelik gesproke is God die Rots wat van geen wankel weet nie. Hy is die regte en aangewese plek om te begin.

Besoek weer wat die Here gesê en beloof het.
Bedink weer die beloftes wat jý gemaak en dalk verwaarloos het.

Waar het jy sy stem die laaste keer duidelik gehoor en wat het Hy gesê?

Is jy steeds op koers?

Die reis is altyd vorentoe (proceed) al beteken dit dat jy die oorsprong van alles moet herbesoek.
Dis nie tydmors en watertrap nie.
Selfs al staan jy vir die oomblik stil om jou konteks te bedink is die reis steeds vorentoe.
Is dit dalk wat jy vandag hoor?

Proceed ro the route.