Praat met my

Praat met my 

Een van die eerste dinge wat in die hek duik by getroude pare is kommunikasie. Dis die wekroep van gebroke huwelike, ons praat nie meer met mekaar nie. Ons het niks om vir mekaar te sê nie. Ek weet nie wat in sy/haar lewe aan die gebeur is nie. Ander vertel my van sy/haar uitdagings.

Daar kan verskeie redes aangevoer word vir die toedrag van sake. Die druk van elke dag is een van die vernaamste redes daarvoor. Soggens dou voor dag bevind soveel mense hul reeds op pad werk toe. Van saam eet, selfs saans is daar nie meer sprake nie. Tussen die kinders en ander verpligtinge is dit ʼn dolle gejaag om betyds by jou werkplek op te daag. Dan word van jou verwag om professioneel vriendelik te wees. Kliënte moet bedien en personeel opgevolg word.
Baie mense se dagtaak bestaan uit praat. Onderwysers, terapeute, ontvangsdames, noem maar op, is die heeldag opgeskerp om opbouende gesprekke te voer. Die politiek, ekonomie en ander uitdagings van die dag word met eweknieë bespreek. Teen jy by die huis kom is jy uitgesels. Jou woorde is opgebruik. Nou soek jy stilte en rustigheid. Die TV bied daardie ontvlugting.
Die meeste wat gesê word is dat die dag besonder druk was en die verkeer huis toe ʼn frustrasie. Die res van die dag word so deurgebring. Van hartskommunikasie is daar nie sprake nie. Neil Diamond sing mos..we dont talk anymore.
Woorde het skeppingskrag. God praat die wêreld tot stand, Jesus is God se praat/woorde vir ʼn stukkende wêreld. Die basis van daardie kommunikasie is die liefde. Jesus is God se liefdeswoord aan die wêreld. Praat begin by liefde bewys. Dit is liefde in praktyk. Dis ʼn oopstel van jouself in belang van die ander. Dis ʼn innooi in jou wêreld. Tussen egpare is daar nie geheime nie. Dis broos en mens handel versigtig met anders se binne wêreld. As jou praat eenmaal gekritiseer word is jy huiwerig om weer te gesels. Kommunikasie neem tyd en opoffering. Dit kom nie altyd natuurlik nie. Dis TV afsit, mekaar in die oë kyk en op weg gaan met die ander.
Gebed
Liewe Here, ons praat nie meer met mekaar nie. Dis so sleg want ek wil so graag weet wat in my man/vrou se lewe aangaan. Help ons om mekaar weer te ontdek. Gee woorde waarmee ons nader aan mekaar kan beweeg. In Jesus se Naam. Amen