“Pap” batterye

Bykans niks in die wêreld werk sonder batterye nie. Die grootste frustrasie ooit is wanneer jy ’n item wil gebruik en die batterye is afgeloop en pap. Nou die ewige soektog deur die huis. Jy het groter batterye maar nie kleintjies nie en raai wat?

Jy kyk of jy nie iewers batterye kan uithaal sodat jy darem vir nou aan die gang kan kom nie. Die kans is groot dat die afstandbeheer se batterye is wat “geoes” word. Onafwenbaar word dieselfde ongemak herhaal wanneer jy vanaand na jou gunsteling kanaal wil oorskakel.
Met selfone is dit nog erger. Jy is net lekker aan die gesels en die foon sny af.

Geen batterykrag nie!

Nou waar is die laaier? Met kinders in die huis weet jy mos jy soek verniet.

Die vreugde van ouerskap.

Ons almal ken daardie frustrasie. Dit help ook nie om kwaad te word en te bly nie, want toe jy die item aangekoop het, het daar duidelik op die omslag gestaan, “batteries needed” of herlaai elke soveel ure.

’n Mens het self ook vars gelaaide of herlaaide batterye nodig om oor die weg te kom. Tog gebeur dit dat ons met die minimum krag, indien enige oor die weg wil kom. Ons spoed eenvoudig van die een afspraak na die volgende voort en neem nie tyd om veral aan ons geestelike behoeftes aandag te gee nie. (Dit geld vir alle terreine van menswees)

Dis onafwendbaar dat jy iewers die prys daarvoor gaan betaal. Dis die manier waarop die Here ons gemaak het. Ons is “battery aangedrewe”. Ons batterye word net gelaai deur tyd saam met die Heilige Gees.

Genadig is die tekens daar dat jou batterye nie meer sterk staan nie. Jy word moeg, is geirriteerd, krities en sommer net onaangenaam. Jou gedagtes is in ’n warboel en jy worstel om perspektief te kry. Dit gebeur met ons almal.

Somtyds het ’n mens ’n langer periode van herstel nodig ten einde weer genoeg stukrag te hê om aan te gaan. Ander keer is ’n kort verposing meer as genoeg. Moenie jou tyd saam met die Heilige Gees, God se kragbron verwaarloos nie. Ruim genoeg tyd in om by sy voete te sit. Dit sal jou die moeite loon.

Matteus 11: 28
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Jannie Pelser