Ope brief aan morsjorse

Getrou aan my voorneme is ek gister laatmiddag gym toe. Ek oefen (op my manier) by Virgin Active hier by Key West in Krugersdorp.

Die parkeerarea staan gepak soos die getroues aanmeld vir hul daaglikse drag slae. Nee, ek spot sommer, dis noodsaaklik. Mens stap regtig verfris daarvan af weg.

Na my oefensessie en op pad na my motor het heelwat voertuie al vertrek. Die spasie waar ʼn vorige besoeker aan die gym se motor gestaan het lê nou besaai met vullis. Kitskoshouers en ander gemors is netjies onder die motor ingegooi net voordat hy (kan nie dink dat ʼn vrou so onnet kan wees nie) tevrede met die lewe, vertrek het.

Iemand anders sal skoonmaak.

Hoofsaak is dat hy nie die moeite hoef te doen om die vullis by sy huis weg te gooi nie.

Nou het ek ʼn bietjie gedink. Dis gym parkering so die javel kan dit bekostig om by daar te oefen. Dis deesdae nie meer goedkoop nie.

Hy ry ʼn motor wat beteken dat hy ʼn redelike salaris verdien.

Dan het hy seker ʼn werk iewers en verdien ʼn inkomste want waarmee betaal hy sy gymgelde, motor paaiement, petrol en kitskos?

Die man het duidelik ʼn hele paar goed in plek.

Dis net jammer hy het nie kultuur, verantwoordelikheid, basiese opvoeding, netheid, medemenslikheid, respek, omgee en waardes nie.

Wie sy vullis by die venster uitgooi skinder oor homself.

Ps.24:1
‘n Psalm van Dawid. Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here

Groete, Jannie Pelser