Oom, kan jy ons hier uitkry?

Ek het die voorreg gehad om by mense wat op die Kaapse vlakte woon besoek te bring. Daar word wonderlike werk gedoen met veral bendegeweld en dwelmverslawing as van die groot uitdagings.
Die mense van Manenberg is vriendelik en raak gemaklik betrokke by ʼn gesprek. Leon, ʼn jeugwerker vertel ons van die werksaamhede voordat ons in groepe die strate invaar. Ek soek die kinders op waarvan daar baie is. Iewers ry ʼn groot klompie peuters en kleuters op ʼn rondomtalie. Ek doen die manhaftige ding om saam met hulle in die rondte te draai. Dit werk nie vir my nie en ek skree die affêre tot stilstand terwyl die kinders kraai van lekkerkry.
Ons sing “Stapsoldaatjie” en “Jesus loves me this I know” . ʼn Bruin seuntjie vat my hand spontaan en los dit nie weer nie. Oral poseer ons vir foto’s maar die maatjie klou. Dit raak my hart. Ek wonder waar die ma en pa is. Ek wonder of hy vanoggend geëet het. Ek wonder waarom hy so stewig vashou.
Later as ek daaroor nadink kry ek die gevoel dat hy ʼn versugting in sy hart het. Oom kan jy help om ons hier uit te kry. Dis arm, verwaarloos, stukkend en meer dikwels mens onwaardig.
Dankie dat jy kom besoek het oom maar meer as dit is nodig.
Hy los my hand eers as ek in die kombi klim na die volgende bestemming.
Ek klou sy hand steeds stewig in myne vas.
Groete
Jannie Pelser
Rant en Dal Gemeenskapkerk