Ons vir jou, Suid Afrika

Verlede week het daar ʼn Grondindaba plaasgevind in Johannesburg waarvan Rapport en City Press die gashere was.

Die grondkwessie is vanuit verskeie perspektiewe belig en bespreek.

Daar was verskeie voordragte maar die twee voorbeelde van plekke waar praat in aksie oorgegaan het, het uitgestaan. Voorbeelde van mense wat hande vat, kennis en ervaring deel, mede eienaarskap bevestig, ʼn gemeenskaplike toekoms najaag en hoop bring. Swart en wit, skouer aan skouer terwille van ʼn nuwe Suid Afrika waarin almal in die geleenthede wat ons land bied, kan deel.

Gedurende die dag is na die inleiding van die Grondwet van Suid Afrika verwys.

“Ons, die mense van Suid-Afrika,
Erken die ongeregtighede van ons verlede;
Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het; Respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid”.

Die Grondwet maak plek vir ons almal. Dit verwyt nie maar skets ons konteks op realistiese wyse.

Dit crescendo in die lyntjie wat sê dat Suid Afrika aan almal behoort wat daarin woon, een in diversiteit.

Ek dink nie die Grondwet beskuldig een groep en maak van die ander slagoffers nie. Die ongeregtighede sny na beide kante, daar was mense aan alle kante wat hul beywer het vir ʼn beter more en in die proses selfs hul lewe verloor het. Die Grondwet erken egter dat ons ʼn ryke verskeidenheid verteenwoordig en wil ons help om dit eerder te vier as om dit te ontken of te verwens.

Die vraag is net hoe deel almal in die goeie moontlikhede van ons land te midde van skreiende armoede en werkloosheid?

Hoe geniet miljoene mense die gawes van ons land as hulle nie eers ʼn adres het nie?

Dan kom die tweede deel (ek parafraseer)
“Daarom beywer ons ons vir ʼn land waarin die gebrokenheid van die verlede reggestel word en beywer ons vir ʼn konteks waarin alle mense hul volle potensiaal kan bereik. ʼn Land waarin elke burger se regte sonder uitsondering, benadeling of bevoorregting van sommigE beskerm word.

Ons beywer ons vir ʼn land wat sy plek internasionaal trots kan inneem.”

Ek wonder in watter mate burgers hierdie duidelike agenda omarm het?

Miskien sal dit ons die moeite loon om die Grondwet se inleiding oor en oor te lees, dalk selfs as ʼn konkretisering van ons stiltetyd.

Christene se omgang met God en sy Woord beteken niks as dit nie in die praktyk uitgeleef word nie.
Suid Afrika is ons konteks.

Ons bly hier. Ons leef, werk en speel hier.
Dis ook hier waar álmal die geleentheid moet kry om te leef, werk en te speel.

Dis opmerklik dat die Grondwet met die volgende woorde eindig.

“Mag God ons mense beskerm.
Nkosi Sikelel’ iAfrika. Morena boloka setjhaba sa heso.
God seën Suid-Afrika. God bless South Africa”.
Kortom, wat vra God van my?

Gaan leef die Grondwet waar jy jouself vandag bevind.
So kom die Koninkryk van God in Suid Afrika.

Jannie Pelser