Ons vir jou Suid Afrika

Ons kan somtyds baie geestelik wees sonder dat dit ʼn verskil maak aan die wêreld en die mense wat daarop woon. Die kwaliteit van ons verhouding met die Here staan in direkte verband met die praktiese uitlewing van die geloof. In die teologie praat ons van die indikatief en die imperatief. Dit wat God gee en dit wat God vra. Die twee is onafskeidbaar deel van mekaar.

Geestelike praktyk begin in eie kring. Wie nie sy eie huismense versorg, lees holisties, omvattend en verantwoordelik versorg nie is slegter as die heidene sê die Woord. 1 TIMOTEUS 5:8As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige. Indien egter die hoë mure rondom ons huise simbolies is van die reikwydte van ons getuienis, verstaan ons die opdrag verkeerd. Elke gelowige het ʼn Jerusalem, Judea, Samaria en uithoeke van die wêreld.

Op direkte en indirekte wyse, deur woord daad en gebed raak ons die uithoeke van hierdie wêreld. (Hand.1:8) Ons sing “ons vir jou Suid Afrika” maar die vraag is in watter mate dit van ons waar is? Van kritiek en slegsê is daar baie, maar dis nie waarna ek verwys nie. Net voor ons weer in ʼn geestelike askese verval herinner ek jou aan die Here se opdrag aan Adam en Eva, die sg. skeppingsopdrag. GENESIS 1:28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit.

Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” Dit is inderdaad die opdrag van elke mens. Die aarde en die volheid daarvan behoort aan die Here, inderdaad. Ons mag dit egter nie vir persoonlike voordeel uitbuit en beroof soos wêreldwyd gebeur nie. God is ook die Vader van die groep, die menslike ras. Ons het ʼn verpligting teenoor mekaar. Jy kan daarvan nie wegkom nie. Die vraag bly, waar en hoe is ek en jy besig om hierdie opdrag uit te leef?Ons geagte Staatspresident is in Davos om die saak van ons geknelde land te stel. Ons mag nie met die heersende politieke party saamstem nie maar die poging van verskeie hoë lui om noodsaaklike beleggings hier ter plaatse te verseker, is van kardinale belang. Ons het elke sent nodig. Ons het die Here se guns nodig. Mag die versekeringe wat aan buitelandse beleggers gegee word dat Suid Afrika in lyn met die Grondwet op verantwoordelike wyse gelei sal word, nie net woorde wees nie. Ons het reeds te veel verloor. Om mnr Tito Mboweni se woorde te gebruik, “nine wasted years under the Zuma administration”. Ten minste word dit, die korrupsie, bedrog en agterbakse optrede tans, direk en indirek, erken.

Ons sien nie altyd die groter prentjie nie maar ek dink die Here is besig om iets betekenisvol te doen. Swere word oopgemaak en die veragterlike inhoud daarvan geopenbaar. Wat bv. tans op die lappe kom met betrekking tot Bosasa, inderdaad beweringe op hierdie stadium, maar die spreekwoordelike – waar ʼn rokie is, is ʼn vuurtjie – ontstel.

Ongelukkig help die vier ondersoek kommissies se werk niks as daar nie gevolge is nie. Dis eers wanneer mense opdok en betaal vir hul wandade dat ons sal glo dat Suid Afrika inderdaad op ʼn nuwe trajek is. Die noodsaak om introspeksie te doen met betrekking tot jou eie geloofwaardigheid spreek vanself. Vier vingers wys terug, sê ons altyd.Staan ons self agter die glasdeur?Die waarheid het ʼn manier om uit te kom.

Dis tyd vir fine tuning .Dis tyd vir radikale Christenskap.Dis tyd vir heelmaak, gesond maak en hoop gee, hande uit die mou steek en help soos die mense wat die vullis uit die Hennopsrivier se loop in Centurion verwyder het.Sê een van die medewerkers, ons het nou lank genoeg gewag.
Ons gaan dit nou self doen.Die groep se naam is heel gepas, Fresh.Vars, nuut, hoopvol en energiek.Operasie skoonmaak.Dit is tyd vir ʼn omvattende skoonmaak in Suid Afrika. Groete, Jannie Pelser