Ons land brand

Ek is diep bekommerd oor Suid-Afrika. Dit is ‘n laat uur en dit is nie ’n teken van swartgalligheid of pessimisme nie, veel eerder ’n realistiese beoordeling van wat ek daagliks sien en ervaar. Toegegee, die media is my inligtingsbron maar as dit oor en weer bevestig word kan die waarheid daarvan nie ontken word nie. Ons is in die moeilikheid en hoe gouer ons dit erken hoe beter.

Wat kan ons doen om die situasie te beredder?

Woongebiede waar proteste en optogte aanleiding gee tot geweld en plundering is dikwels buite ons gesigsveld. Ons word die opstand genadiglIk gespaar. Dit beteken nie dat dit my nie raak nie. Dit beteken nie dat die toekoms van my kinders en kleinkinders, trouens alle kinders en kleinkinders in gedrang kom nie.

Daar is betekenisvolle dinge wat ek kan doen om enigsins ’n bydrae te maak op die pad van herstel.

Die grondhouding van ’n gelowige is gebed en dit is ons vertrekpunt. Daarbenewens word ons gebede en goeie voornemens gekonkretiseer deur dade.

Waar daar nood is help ons.

Waar daar gehuil word raak ons empaties betrokke.

Ons deel in vaardighede en kennis.

Ons bou verhoudinge met ander mense wat nie soos ons is nie. Ek wonder hoeveel van ons gereelde lesers het enige betekenisvolle verhoudinge met mense van ’n ander kultuur. Dit sal lekker wees as jy in die kommentaar kolom enkele sinne daaroor wil skryf.

Twee ore en een mond. Ons kan vir ’n slag luister na die noodkrete van ons medemens.

Ons kan ten minste probeer verstaan al voel dit somtyds of ons wêrelde van mekaar leef.

Ons kan Suid-Afrika nie op ’n skinkbord aan anargie, wetteloosheid en barbaarsheid oorgee nie. Daar is genoeg ordentlike mense in ons land aan alle kante van die spektrum. Hulle is immers ons kollegas, huishulpe, tuinwerkers. Ons ontmoet hulle agter die kasregister, by die motorhawe, selfs op die hoek van die straat al bedelend.

Vrot appels sal daar altyd wees.

Sal jy vandag ’n medemens wees?