Omarm deur God

Ek het die voorreg gehad om die afgelope week by ń retreat te wees. Te midde van asemrowende natuurskoon en onbeskryflike stilte hoor ń mens weer God se stem. Dis ń plek van rustigheid, nuut luister en fokus.

Dis ook ń plek waar ń mens emosioneel ń bietjie gesonder word. Die rofies van gister en eergister se seer kom somtyds weer af selfs al het jy gedink dis afgehandel.

Gesond word, geestelik en emosioneel, is ń lewenslange reis. Deur en in dit alles ervaar jy die genade en liefde van die Here . Daar is nie verwyt en vingerwysing nie, al verdien jy dit meermale. Dis die storie van die verlore seun. Jy kom weer huistoe.

Op die terrein staan daar ń reuse kruis met die woorde “wees stil en weet Ek is die Heer” daaronder geskryf. In jou geestesoog kan ń mens ervaar hoedat die horisontale asse van die kruis die arms van Jesus word. Jy beleef dat Hy sy arms van begrip, liefde en omgee rondom jou vou en jou intrek in ń koesterende liefdesvashou.

Ons het dit almal nodig . Somtyds meer as ander kere. The embrace of God. Jy kan dit nie in die verbygaan so intens beleef nie. Staan ń slag stil by die kruis, kom eenkant, word stil en weet..Hy is die Heer.

Jannie Pelser