Niks mooi aan die dood nie.

Gister my broer Thinus begrawe. Die famlilie het verkies dat dit ʼn teraardbestelling sal wees. Hy is begrawe waar my ma en pa ook lê.

Dit was nie ʼn groot begrafnis nie. Net ʼn paar familielede en kollegas.

Ek het uit Fil 3 gepraat. Paulus se Damaskuspad ervaring het sy hele ingesteldheid verander. Nou beskou hy alle aardse en mensgemaakte sekuriteite as waardeloos in vergelyking met die kennis van Christus. Die teks het my getroos en gehelp om vir ń oomblik verby die hartseer te kom.

Ons vertrek na die begraafplaas en wurm ons pad deur die verkeer wat salig onbewus is dat vir sommige die lewe kom stilstaan het.

Die graf is diep en onvriendelik. Die groen mat en blom belaaide kis verdoesel die naaktheid en wreedheid van die dood. Terwyl die oorskot na onder beweeg wonder ek of dit nooit gaan stop nie. Uiteindelik die laaste kreungeluide van die bande wat onder die kis ingevou is.

Die roosblare wat gestrooi word versag die oomblik. Dan word die versierings verwyder en die koue grafwande staar uitdagend. Dis asof die dood jou koggel. Dis die kluite wat na benede tuimel wat jou terugruk na die werklikheid. Dan besef ek wat Jesus vir ons gedoen het,waarvan Hy ons verlos het, waartoe Hy ons uitnooi. Die teks waarmee my pa begrawe is spoel deur my ” Joh.14 Ek gaan om vir julle plek voorteberei …”

Hierdie vyand, koud, ontydig, ongenaakbaar wat sy verskyning sonder afspraak maak spreek nie die laaste woord nie.

Dankie Here vir die verlossing , oorwinning en ewige lewe.

1 Kor.15:58

“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

Groete, Jannie Pelser