Net ʼn bietjie water

Dis lente en ʼn mens se vingers juk om in die grond rond te krap. Al wat ʼn kwekery is veral oor naweke die ene bedrywigheid soos tuiniers plante uitsoek vir hul gunsteling hoekies.

Ek maak nie aanspraak op groen vingers nie maar hier en daar verras ʼn plantjie my tog met rojale groei.

Met die oog op die lente en omdat dit so ʼn beslommernis is om die tuinslang rond te sleep het ek die 101 van besproeiing aangedurf. Die hele tuin lê vol swart waterpype maar ek troos my dat niemand dit sien nie. Sulke klein 360 grade spuitkoppies, heel bekostigbaar boonop, sorg vir ʼn heerlike sproei waarin jy wil baljaar. Dis te lekker om te sien hoe die water soos wafferse spuitfonteine ʼn reënmis vorm en sommer gou gou is die bedding gediens.

Die verrassende is om te sien wat onder die grond skuil en net gewag het op ʼn bietjie water. Uiteraard is die onkruid nie skaam nie maar soos altyd opdringerig en voortvarend. Tog is daar oral plantjies wat hul verskyning maak waarvan niemand geweet het nie. Daarbenewens begin die kruipers nuwe lote vorm, die takkies van die krismisroos is vol nuwe botsels, die rose pronk vanoggend met ʼn paar pragtige blomme. Al wat dit gevra het was ʼn bietjie water.

Jy sal verbaas wees wat met die binnekant van ʼn mens gebeur as jy daaraan aandag gee. Selfs ʼn paar druppels van God se teenwoordigheid laat nuwe lewe uitspruit. Wat dor, droog en oënskynlik dood geraak het wag net op die water van die Gees. Tekens van lewe omdat God die vroeë en die laat reën skenk.

Dis lente. Waarom nie dit laat lente word in jou geestelike lewe nie. Gee water. Word stil. Vat tyd. Kom by die Here uit.
Jy sal verbaas staan oor wat net onder die oppervlak wag om tekens van lewe te toon.

JESAJA 44:3
Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge.

Jesaja 35:1
Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille;

Groete, Jannie Pelser