My nuwe klere

Ek hou van mooi klere en en hou daarvan om myself te bederf met iets mooi.
Almal kan daarmee identifiseer.
 
Ou klere verslyt met die tyd, die nate rafel uit en dit pas nie meer mooi nie. Toegegee en onverstaanbaar, mens koop deesdae stukkende klere ín die winkel teen verstommende pryse.
 
Daar is soveel gate in die broek dat jy wonder waarom ʼn mens hoegenaamd jou verslete een vervang. Dit lyk of die knieë lankal “deur gebid” is en die materiaal is dof asof iemand te veel bleik- middel in die wasmasjien gegooi het.
Interessante wêreld waarin ons woon.
 
Een gewaarwording wat ek in ʼn klerewinkel het is dat wat ek tans aan het, nie meer goed vertoon nie. Ek voel sommer asof ek uit die wasgoedmandjie geklim het. Die stukkende skoenpunte en skeefgetrapte hakke laat my skaam voel. So voel ek oor bykans elke klere stuk wat ek aanhet. Dit voel of almal kan sien dat ek nuwe klere nodig het en net betyds opgedaag het om iets aan te skaf.
 
Dis irrasioneel en skeefgetrek maar, dis hoe ek meermale voel.
Ek sien uit om iets nuuts aan te trek.
 
Dit beteken nie dat ek ondankbaar is nie, inteendeel.
 
My laaste klere koop ervaring het my weer bewus gemaak van hierdie ervaring en meteens laat dink hoe die “natuurlike” mens in die teenwoordigheid van ʼn heilige God voel en moet voel, intens bewus van skuld, vuilheid en die behoefte aan verlossing.
 
Dis die woorde van ʼn Jesaja 6:5 “weë my, ek is ʼn sondige mens”. Dis die woorde van Petrus in Lukas 5 “gaan weg van my Here ek is ʼn sondige mens” , van verskeie persoonlikhede in die Bybel. Tomas roep uit “my Here en my God”.
 
Diep bewus van my geestelike, emosionele en liggaamlike versletenheid verlang ek daarna om met die geregtigheid (verlossing, liefde en aanvaarding) van Jesus beklee te word. My wese smag na vernuwing en verandering soos die verlore seun by sy Vader maar sonder om veroordeel en sleg gesê te word.
 
Die ou klere word uitgetrek en met nuwes vervang, ʼn ring aan sy vinger en nuwe skoene aan sy voete.
Die hemel juig oor ʼn sondaar wat tuisgekom het en die gemoed sing “Genade onbeskryflik groot het U aan my bewys”.
 
Het jy al jou nuwe klere gekry?
 
Groete, Jannie Pelser