Moruti, wat van die voëltjie?

Met by afskeidsgeselligheid vandeesmaand het Marcel ʼn lieflike koek gebak met ʼn reuse arend bo op. Die arend bestaan hoofsaaklik uit versiersuiker en lyk te mooi om te eet.

Die arend speel ʼn baie belangrike rol in my geestelike reis. Ek is seker dat dit vir jou ook baie betekenis het.

Suzette vra geruime tyd wat van die arend gaan word. Dit moet iewers heen maar ek kry dit nog nie oor my hart nie. So praat sy met ons huishulp Margaret en sê dat die moruti vandag ʼn besluit moet neem anders gaan die arend saam met haar Munsieville toe. Toe dit later die dag tyd is om Margaret huistoe te neem vra sy vir my Moruti, “wat van die voëltjie?”

Die arend is koning onder die voëls. Dis aristokraties, stylvol, berekend, gesog en buitegewoon aantreklik. Dis ʼn metafoor van God se sorg en omgee vir mense. 
Julle is bekend met die teks in Deut. 32 onder andere waar die Here vertel hoe Hy sy volk versorg. Telkemale word hulle uit die nes geskop net om maar op arendsvlerke gevang te word as dit lyk asof die volk nie gereed is vir die gelooftreë nie.

Die arend is nouliks ʼn voëltjie. Dis staan ver uit bokant die gevleueldes. Merkwaardig, indrukwekkend en skaars.

Dis maar Margaret se manier om my te vra of sy die arend kan huistoe neem. Natuurlik het ek nie ʼn probleem daarmee nie.

Die verwysing na ʼn voëltjie het my egter laat dink aan ons persepsie van God. Is Hy, die ewige, barmhartige, lieflike, merkwaardige, alomteenwoordige, almagtige, lankmoedige, werklik God en vertrou ons Hom as sodanig?

Of is hy klein, beperk, broos en feilbaar? 
Kan Hy of kan Hy nie?
Hoe lyk die God wat ons dien? 
Is dit die God van die Bybel?

Toegegee, selfs die Bybel vertel ons nie alles van God nie.

Die Here van die leërskare woon en werk deur sy Gees in jou.

Vertrou Hom volledig.