Marshmallow liefde.

 

By my dogter se troue het ek ( afgeloer by Johan Els) Marshmallows aan die einde van die diens uitgedeel. Uiteraard het die boodskap oor die liefde gehandel. Hoe dan anders?

Ek het aangesluit by die bekende lied op die liefde soos ons dit in 1 Kor. 13 vind. Ek moes bely dat alles wat die teks sê liefde verteenwoordig, dikwels vir my ʼn uitdaging is. Daarteenoor is alles wat die liefde nie behoort te wees nie, veranker in my DNA. Daarom moet ek voortdurendereken met die waarheid dat ek in Christus Jesus gesterf en opgestaan het en ʼn nuwe identiteit gekry het.

I have the mind of Christ.
Dan moet ek so begin optree.
Jesus het nie afgeknou, verneder, gespog en gegryp nie. Hy het gegee en omgegee. Hy is die vergestalting van liefde.

Met ʼn Marshmallow in die hand is gaste gewys op die sagtheid van die lekkerny. Dit reageer nie kwaadwillig as dit dan en wan gedruk word nie. Dit stry nie ten bloede om sy statuur en vorm te behou nie. Dit is smaaklik in die mond ongeag hoeveel kneusing dit moes ondergaan.
Dit was ʼn Marshmallows troue.

Miskien wil jy ook vandag ʼn pak daarvan uitdeel aan die mense in jou omgewing en hulle aanmoedig om selfs gekneus soet en sag in die mond te wees.

Groete, Jannie Pelser