Kaapse Kansel

Suid Afrika beleef baie onstuimigheid en daar gebeur min wat die gemoedere tot bedaring bring. Die aankondiging van mnr Ramaphosa dat die ANC beoog om voort te gaan met die wysiging van art 25 van die grondwet wat verband hou met die onteiening van grond, sonder vergoeding, is ontstellend.

Verskeie belange groepe en duisende individue het negatief daarop reageer en ook die rand het swakker vertoon. Dit is onverstaanbaar dat hierdie aankondiging nou gedoen word terwyl die samesprekinge en verhore oor die kwessie nog nie eers afgesluit is nie, om nie eers van die verwerking van die meer as 500,000 insette wat gelewer is, te praat nie. ʼn Mens is diep bekommerd dat hierdie laaste aankondiging gaan bydrae tot verdere polarisering van ons reeds getraumatiseerde land.

Vir ʼn oomblik het dit gelyk asof vir Zimbabwe ʼn nuwe toekoms aangebreek het. Die verkiesingsuitslae is egter met woede begroet deur die opponerende MDC en aanleiding gegee tot chaos.

Afrika sukkel om demokratiese prosesse te respekteer. Kimberley is daarvan ʼn voorbeeld. Die stad is in pandemonium gedompel omdat die burgemeester nie sy ry wil kry nie. Dis Suid Afrika se storie. Mense klou verbete aan hul posisies vas ongeag die feit dat hulle drooggemaak het gedurende hul ampstermyn. Ontevrede burgers gedra hulle weer soos ʼn klomp skoolkinders wat nie hul sin kry nie.
Eskom is tans ook daarvan ʼn sprekende voorbeeld.

Drie vroue word elke dag in Suid Afrika deur hul lewensmaats vermoor. Dit is ontstellend dat kwesbare mense in ons samelewing verniel en misbruik word. Vroue het derhalwe gister in duisende regoor Suid Afrika onder die logo, #thetotalshutdown, opgeruk. In Pretoria het ʼn klompie, na ʼn baie vermoeiende dag waarin hulle geïntimideer en beledig is, geweier om uit mekaar te gaan alvorens mnr Ramaphosa soos belowe opdaag en die memorandum persoonlik in ontvangs neem. Selfs minister Naledi Pandor kon dit nie as troosprys vir hulle doen nie. Die president het ter elfder ure sy verskyning gemaak en aandagtig na die dapper vroue geluister.

Dit het my herinner aan die vroue wat destyds teen die onregverdige en onmenslike paswette betoog het. Beide die feit van die opmars asook mnr Ramaphosa se opdaag en respons het my hoop gegee vir hierdie land.

Miskien kan ons wat so baie kla nadink oor wat ons kan doen behalwe om die sosiale media met ons bitterheid, opstand, ongeloof en beledigings te vermoei. Die reaksie van ons mense oor die ja, ongevraagde en ontstellende aankondiging van mnr Ramaphosa oor grond, is in baie gevalle beledigend. Miskien wil die Here ons leer om ook as beredeneerde gespreksgenote op te daag en deel te neem aan die demokratiese proses waarin ons sê ons glo. Al word ons in ons wese gefrustreer en lyk dit of ons stem hoegenaamd nie gehoor word nie is ons getuienis as volgelinge van Jesus ook op die spel.

Teen hierdie agtergrond wil ʼn mens hande in die lug gooi en vra, liewe Here waarheen, waarmee? Is daar nog ʼn toekoms beskore vir hierdie geknelde land? Het ons U iewers misgeloop dat u ons oorgee het aan sluimerende anargie?

Aan Zimbabwe kan óns weinig doen behalwe om te bid.

Oor die vroue wat verniel word moet ons treur en tot bekering kom. Dis verskriklik. Elke pa sal dringend moet begin om sy seuns die regte leiding te gee. Die wyse waarop pa`s met hul huismense omgaan moet onder die vergrootglas geplaas word. Dit begin in ons huise. Dis daar waar seuns sien hoe pa met ma en die dogters in die huis werk. Dis daar waar seuns hoor hoe pa en sy vriende rondom die braaivleisvuur oor die skoner geslag praat.

Seuns moet op skool leer om respek te hê vir meisies. Die media bied vroue as objekte aan en kla dan as manne sonder die nodige verwysingsraamwerk daarop reageer. Uiteraard is daar geen verskoning vir die misbruik van vroue nie. Ons het ʼn berekende en gesamentlike program nodig om dit aan te spreek (die netjies, goed voorbereide memo wat deur die vroue aan mnr Ramaphosa oorhandig is blyk ʼn uitnemende vertrekpunt te wees)
Dis skandelik dat Christelike Suid Afrika homself so onderskei in die wêreld. Wat het van moraliteit geword.

Ons het ʼn dag van verootmoediging en berou nodig oor die skandelike wyse waarop vroue en kinders, hanteer word.

Wat grondonteiening sonder vergoeding betref moet ons bly praat. Daar is geen alternatief nie. Dis ʼn gee en neem situasie. Suid Afrika gaan net wen as almal bereid is om te gee. `ʼn “Winner takes it all” benadering is futiel en dodelik. Daar gaan geen wenners wees in hierdie toutrekkery nie. Die vraag is uiteraard – wat is ek en jy bereid om te gee?
God het ʼn blymoedige gewer lief.
Dis in elk geval alles Syne.